Dis tyd om meer spaarsamig te lewe. As ons dit nie al vroeër besef het nie, hoop ek ons besef dit nou.
Elke dag as ek die pryse van inkopies sien, is dit net ’n hartseer-herinnering dat die lewe net duurder raak.
Ons sal nou twee keer moet dink oor die goed wat ons dink ons benodig. Soms koop ’n mens goed wat jy nie nodig het nie, en dis ’n mors van geld.
En ons almal weet as die geldjies min raak, dan trek daai skouers styf van die stres, want hoe maak jy tot die volgende salaris aan jou betaal word.
Moenie sleg voel as jy nie ’n paar rand weg kan sit in ’n spaarrekening nie.
Nie almal is bevoorreg om dit te doen, maar kyk na jou leefstyl. Kyk watter “benodigdhede” is dit wat jy kamstig nie sonder kan lewe nie.
Daar is luukshede waarsonder ons kan lewe. Ek dink dis net ’n saak van om jou kop in te stel, en sterk te staan teen die begeertes wat jou onnodig platsak laat staan. Dis nou die tyd om elke sent twee keer om te draai. En dis ook geen skaamte as jy moet wag vir afgemerkte artikels nie.




