Die polisie in Wellington ondersoek twee sake van moord, asook twee van poging tot moord nadat ’n skietery kort voor Kersfees in die omgewing van St. Paul- en St. Simonstraat uitgebreek het.
Twee mense is tydens die skietery dood en drie ander is met skietwonde in die hospitaal opgeneem.
Een van dié beseerdes, ’n 20-jarige man, is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem, het kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, aan Paarl Post bevestig.
“Die polisie is Saterdag 23 Desember ingelig oor ’n skietery in St. Simonstraat. Met die polisie se aankoms was ’n verdagte aktief besig om op mense in die straat te skiet.
“Die verdagte het versuim om aan die polisie se waarskuwings gehoor te gee, waarna die polisie hom moes skiet. Die polisie het toe op sy vuurwapen beslag gelê,” sê Barkhuizen.
Volgens hom het die verdagte twee mense van onderskeidelik 24 en 40 doodgeskiet.
Hulle is op die toneel dood verklaar.
Twee ander persone is ook met skietwonde in die hospitaal opgeneem.
Hy sê die verdagte het ernstige skietwonde aan onder meer sy kop opgedoen en is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem.
Die verdagte sal ná hy uit die hospitaal ontslaan word op twee aanklagte van moord en twee van poging tot moord in die hof verskyn, sê Barkhuizen.
Paarl Post het skokkende kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval bekom, wat wys hoe die verdagte ’n groep mense agternasit en op hulle skiet.
In die video kan gesien word hoe die verdagte ook op die insittendes van ’n wit voertuig, wat by die ingang van ’n huis geparkeer is, skiet.
Barkhuizen sê die motief vir die skietery word ondersoek.
Ruth Arnolds, raadslid van wyk 7 in Wellington, het die voorval ten sterkste veroordeel en sê die toename in geweld en soortgelyke skietvoorvalle is kommerwekkend.
“Ons kan nie ’n situasie hê waar inwoners in vrees lewe nie. Ek kry daagliks oproepe en boodskappe van inwoners wat hul kommer uitspreek oor die misdaad.
“Die realiteit is dat Wellington eenvoudig nie genoeg polisiebeamptes het nie. Ons sit met ’n situasie waar ons beamptes gebiede so ver as Saron moet bedien. Hulle is oorwerk.
“Dit is om daardie rede dat ek as raadslid hande gevat het met verskeie gemeenskaps- en godsdiensorganisasies om hierdie kwessies aan die polisie en munisipaliteit te opper,” het sy aan Paarl Post gesê.
Arnolds sê “dit is ook hoogtyd dat inwoners hul ingesteldheid teenoor die polisie verander”.
“Die polisie is daar om ons gemeenskappe te beveilig. Hulle taak word egter bemoeilik as daar nie samewerking deur inwoners is nie. Ons doen dus ’n beroep op inwoners om misdaad en misdadigers te rapporteer sodat ons Wellington weer veilig kan maak.”
Sy sê daar is onlangs ’n memorandum met polisiërings- en wetstoepassingsgriewe aan die polisie en munisipaliteit oorhandig.





