As jy in graad 8 of 9 is en hou van foto’s neem, kan jy ’n splinternuwe slimfoon en ’n kontantgeskenkbewys ter waarde van R10 000 vir jou skool wen.
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se nuwe idiomeboek, “Ons almal loop op dieselfde aarde” is pas bekendgestel en is gratis beskikbaar op die SBA-webtuiste.
Die boek bevat 20 idiome in vier tale wat handel oor die aarde. Om ’n kans te staan om ’n splinternuwe foon vir jouself en ’n kontantgeskenkbewys te wen, moet jy deelneem aan die stigting se fotokompetisie.
Om in te skryf kies enige idioom wat in die idiomeboek is — dit hoef nie een in jou huistaal te wees nie. Besluit dan hoe jy die idioom visueel kan uitbeeld. Dit hoef nie ’n letterlike uitbeelding te wees nie, maar kan simbolies of abstrak wees.
Neem ’n foto van jou uitbeelding. Moenie die idioom by jou foto neerskryf nie, maar maak seker jou uitbeelding is so eenvoudig as moontlik.
Deel die foto op jou Facebook en “tag” Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se amptelike blad. Maak seker jy “like” die SBA-blad en gebruik die hutsmerke by jou inskrywing #SBA, #SigbaarAfrikaans, #Idiome en #Fotokompetisie.
Die kompetisie sluit op 14 April en die inskrywing met die meeste “likes” wen. Die wenner sal op 23 April op die SBA se Facebook-blad bekend gemaak word.
Besoek https://sbafrikaans.co.za/sba-publikasies/ om die idiomeboek af te laai.




