Sewentien mense is vir hul vermeende betrokkenheid by die onregmatige uitbuiting van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se leerdervervoertoelaag in hegtenis geneem.Foto: SAPD

Credit: SYSTEM

Skokgolwe is Donderdag 9 Maart deur die Paarl en Wellington gestuur toe twee gerespekteerde skoolhoofde van dié onderskeie dorpe in hegtenis geneem is.

Mary Banda van Klein Nederburg Sekondêr en Harvey Cupido van Wellington Sekondêr is deel van ’n groep mense wat in hegtenis geneem is vir hul vermeende betrokkenheid by die onregmatige bestuur van sommige leerders se vervoertoelaes, wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) beskikbaar gestel is.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is die beskuldigdes onderskeidelik in die Paarl, Wellington, Atlantis en Philadelphia in verband hiermee in hegtenis geneem.

Die voorval spruit uit vermeende wanbestuur by ’n skool in Atlantis.

“Hulle staan tereg op aanklagte van diefstal, vervalsing en bedrog van sowat R12 miljoen,” het Potelwa gesê.

Die inhegtenisnemings is deur die Wes-Kaapse polisie-eenheid vir handelsmisdaad uitgevoer.

Potelwa sê die polisie het nege vroue en agt mans in hegtenis geneem.

Die beskuldigdes het Vrydag 10 Maart die eerste keer in die Atlantis-landdroshof verskyn.

Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die hofverskyning bevestig.

“Hulle staan tereg op 24 aanklagte van bedrog,” het Ntabazalila gesê.

Hy sê 16 van die beskuldigdes is vrygelaat op borgtog van R3 000 elk, terwyl een persoon op waarskuwing vrygelaat is.

“Hulle is Charles Marthinussen, Mary Banda, Jeneen Cupido, Jennifer Ludick, Cyril Mack, Freddie Johannes, Lizette September, Margarite de Klerk, Denver Davis, Roy Davids, Melanie Adonis, Elvin Jacobs, Margareth Alexander, Dorothea van der Merwe, Delicia Brandt, Cameron Ludick, Christiaan Saville, Harvey Cupido en Benjamin Bus Services CC”.

Die nuus van Banda en Cupido se inhegtenisneming het soos ’n veldbrand versprei kort nadat hulle in polisieaanhouding geplaas is. Inwoners is steeds in ongeloof oor wat gebeur het. Terwyl baie mense die twee skoolhoofde ondersteun, is daar ook diegene wat verdere bewerings op sosiale media aanstook.

Volgens inligting hou die beweerde misdrywe glad nie verband met die skole waar die Paarl- en Wellingtonse skoolhoofde tans werk nie.

Gerugte dat ander onderwysers by Klein Nederburg en Wellington Sekondêr betrokke en ook aangekla is, is onwaar.

Bronagh Hammond, die WKOD-woordvoerder, het besvestig dat die vermeende wanbestuur het by ’n skool in Atlantis plaasgevind.

“Die WKOD het die provinsiale forensiese ondersoekeenheid in 2007 reeds gevra om die vermeende finansiële wanbestuur by Atlantis Sekondêr te ondersoek. Die aangeleentheid is by die polisie aangemeld en ons is bly dat die Wes-Kaapse handelsmisdaadeenheid in hierdie verband opgetree het. Ons is bewus van agt WKOD-werknemers wat aangekeer is, van wie vyf personeellede by Atlantis Sekondêr is. Die distrikskantoor bied ondersteuning aan die skool. Ons is ook bewus van ’n oudpersoneellid sowel as ’n aantal voormalige skoolbeheerliggaamlede wat in hegtenis geneem is,” het hy gesê.

Die polisie het die inhegtenisnemings ná maande se ingewikkelde ondersoekwerk uitgevoer, sê Potelwa.

Beide Banda en Cupido word verteenwoordig deur ’n plaaslike prokureursfirma.

Paarl Post het kontak gemaak met die firma en gevra of daar enigiets is wat hulle in dié verband wil sê rondom die saak en klagtes, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Intussen sê Elton Rochert, wat sewe ander beskuldigdes in die saak verteenwoordig, dat hy nie weet hoe die staat die saak teen die beskuldigdes gaan bewys nie. Dit omdat die skole nie direk werk met tenders rakende leerders se vervoertoelaes nie, maar die departement self. Die beskuldigdes verskyn weer op 24 April in die hof.

  • Shock waves were sent through Paarl and Wellington last Thursday (9 March) when two respected school principals from the respective towns were arrested on charges relating to corruption with school transport subsidies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article