Die Meulhuis in die Paarl.Foto: Argief-foto


Die gesin van die veroordeelde bedrieër Samuel Cupido woon steeds in ’n munisipale huis in ’n spogbuurt van die Paarl.

Cupido is aan bedrog skuldig bevind nadat hy in 2006, saam met drie ander munisipale werkers en nog ’n vrou, in hegtenis geneem is.

Sy inhegtenisname het verband gehou met bedrog van R3 miljoen by die munisipaliteit.

Cupido is skuldig bevind en het ’n relatief kort tydperk agter tralies deurgebring, maar is weer op vrye voet.

Deur al hierdie regsprosesse het Cupido se gesin in die geskiedkundige woning, bekend as die Meulhuis en agter die Ou Meulteater in die Paarl, bly woon.

Die afgelope jare voer die Drakenstein-munisipaliteit wel ’n stryd om die gesin wettig uit die huis te verwyder, maar dié proses sleep voete.

Die huis is ook reeds redelik verwaarloos.

Inwoners in die gebied vermoed dat meer as een gesin ook daar woon.

Seraj Johaar, DM direkteur: korporatiewe dienste, het bevestig dat die Cupido-uitsetting nog aan die gang is, maar hy wou nie uitbrei oor in watter stadium dit tans is nie.

Johaar het voorts gesê dat die moontlike toekomstige ontwikkeling van hierdie gebied tans oorweeg word.

Daar is egter verskeie faktore wat eers in ag geneem moet word alvorens finale besluite geneem kan word rakende enige ontwikkeling in die gebied en toekomstige gebruike van die huis.

Die DM is in die volgende paar jaar in die proses om afstand te doen van verskeie van sy eiendomme.

Sulke eiendomme sal dan beskikbaar wees vir langtermyn verhuring, asook vir algehele verkoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article