’n Polisievrou wat in die Paarl woon, is verlede Woensdag (27 November) saam met haar kêrel in hegtenis geneem.
Konst. Shannon-Lee Crotz (26), wat verbonde is aan die Athlone-polisiekantoor in Kaapstad, en Ernesto Adonis (25) is tydens ’n klopjag, wat die polisie by ’n huis in Paarl-Oos uitgevoer het, in hegtenis geneem.
Hulle is op aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en dwelms aangekeer.
Die paartjie het Donderdag (28 November) in die Paarl-landdroshof verskyn waar die aanklagte teen Crotz voorlopig teruggetrek is.
Lt.kol. Malcolm Pojie, die Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het Crotz en Adonis se inhegtenisname bevestig.
“Ons kan bevestig dat die aanklagte teen die beampte voorlopig teruggetrek is.
“ ’n Tugproses is egter deur die stasiebestuur ingestel. Die aanklagte is die onwettige besit van ammunisie en die besit van dwelms.”
Adonis word sedert verlede week aangehou en verskyn weer vandag in die hof.




