Klein Nederburg Sekondêre Skool se hoof, Mary Banda, asook Harvey Cupido, voormalige hoof van Wellington Sekondêr wat verlede termyn bedank het, het Maandag (20 November) weer in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Belville verskyn.
Die saak is tot 1 Februarie 2024 uitgestel vir die uitslag van vertoë van onder andere Banda en Harvey Cupido, volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA).
Banda en Harvey Cupido is in Maart vanjaar saam met Charles Marthinussen, Jeneen Cupido, Jennifer Ludick, Cyril Mack, Freddie Johannes, Lizette September, Margarite de Klerk, Denver Davis, Roy Davids, Melanie Adonis, Elvin Jacobs, Margareth Alexander, Dorothea van der Merwe, Delicia Brandt, Cameron Ludick, Christiaan Saville en Benjamin Bus Services CC op aanklagte van bedrog, diefstal, vervalsing en uitgifte ter waarde van R12 miljoen in hegtenis geneem.
Banda sowel as Harvey Cupido het as skoolhoofde by skole in Paarl en Wellington gewerk toe hulle in hegtenis geneem is.
Hul inhegtenisname spruit uit hul vermeende betrokkenheid by die onregmatige bestuur van sommige leerders se vervoertoelaes, wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) beskikbaar gestel is.
Die 19 beskuldigdes word daarvan aangekla dat hulle ’n kontrak vir Benjamin’s Bus Services CC, wat leerders van die Atlantis Sekondêre Skool buite Kaapstad vervoer, in 2008 onwettig verleng het.
Die beskuldigdes was met hul inhegtenisneming onderskeidelik onderwysers en beheerliggaamslede by Atlantis Sekondêre Skool, waar Banda in ’n stadium die waarnemende hoof was.
“Dit is ’n misdaadondersoek voor die hof. Die uitslag moet nog gefinaliseer word. Die WKOD wag vir die uitslag van die strafsaak, wat ons eers volgende jaar verwag. Die uitkoms sal bepaal of enige verdere optrede deur die onderwysdepartement in die toekoms teenoor die opvoeders gedoen sal word,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, aan Paarl Post gesê.
Volgens Lloyd Fortuin, Banda en Harvey Cupido se prokureur van Faure en Faure-prokureurs in die Paarl, het die staat nie ’n saak nie en word die proses verder vertraag omdat die staat nog nie op Banda en Harvey Cupido se besware gereageer het nie.
“Die maandelikse betalings wat aan die vervoerkontrakteur betaal moes word, is elke maand direk in die [Atlantis Sekondêre] skool se rekening betaal. Daarna is dit aan die vervoerkontrakteur, in terme van die ooreenkoms, oorbetaal. Die beamptes van die [WKOD] het elke maand die bankrekening en finansiële state van die besteding van die geld nagegaan en dit afgeteken. Die [WKOD] beamptes het nie enige ongerymdhede opgemerk of aangemeld nie,” volgens Fortuin.
Hy het voorts aangevoer ’n forensiese ondersoek is gedoen nadat die WKOD die kontrak oorgeneem het, met geen gemene spel wat aangemeld is nie.
“Nou – 16 jaar later – vind die departement skielik fout met die bestuur van die vervoerkontrak. [Die WKOD] maak die bewering dat die skool se beheerraad saamgesweer het om die staat te besteel – dit nadat die beamptes [van die WKOD] elke maand die state afgeteken het,” het Fortuin gesê.
Volgens hom word die beskuldigdes ook aangekla omdat hulle nie die WKOD se vervoerbeleid uitgevoer het nie.
“In 2007-’08 [die tydperk van Benjamin’s Bus Services CC se kontrak] was daar geen vervoerbeleid toe ons [Faure & Faure se] kliënte die vervoerkontrak bestuur het nie,” het Fortuin verder per e-pos gesê.



