’n Vrou is dood en nog 15 passasiers is Woensdagaand (1 Februarie) beseer nadat ’n bakkie op die R44 tussen Wellington en Klapmuts gerol het.

Die ongeluk is omstreeks 18:15 by nooddienste aangemeld.

“Paarl-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n ongeluk op die R44 Agter-Paarl-pad plaasgevind het,” vertel die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis.

Sy bevestig dat een vrou in die ongeluk dood en 15 passasiers beseer is.

Du Plessis sê daar word beweer dat die bestuurder van ’n Toyota Hilux op die R44 gery het toe ’n voertuig met ’n sleepwa die Hilux-bakkie verbygesteek het.

“[Dit het] daartoe gelei dat die bestuurder [van die Hilux] uit die pad moes swaai om nie teen die sleepwa te bots nie. Gevolglik het die bestuurder van die voertuig met 16 passasiers beheer oor die voertuig verloor,” sê sy.

Nooddienste het op die toneel gereageer waar die bestuurder en 15 passasiers behandel is.

Tien passasiers is met ligte tot ernstige beserings na twee nabygeleë hospitale geneem.

Een vrou is op die toneel dood verklaar.

’n Betroubare nooddienswerker wat op die toneel was, het aan Paarl Post gesê die bakkie, met 16 vroulike passasiers, het van die pad af gery, omgeslaan en gerol en weer op sy wiele beland.

“Een passasier is op die toneel dood, terwyl die ander 15 passasiers deur ambulansdienste na die Paarl-hospitaal asook die Stellenbosch-hospitaal geneem is,” het die nooddienswerker gesê.

In kommentaar op die aanlyn publikasie van dié storie vaar mense uit teen boere oor die algemeen omdat hulle glo hul werkers aan gevaarlike vervoer toevertrou.

“Die boere wat hul werkers so wil vervoer, moet gestraf word,” het een persoon sterk beklemtoon.

Pad van die dood

Beide die R44 en R45 is berugte paaie wat oor die jare heen talle lewens geëis het.

Die R44 word as die “pad van die dood” geken, veral deur inwoners soos Eddie Buxman wat op dié pad tussen Hermon en Wellington boer.

Buxman het in ’n vorige onderhoud met Paarl Post vertel dat die paaie gevare soos blinde hoogtes, verkeerd gemerkte verkeerslyne en ’n gevaarlike snelheidsperk van 120 km/h inhou.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het destyds bevestig dat die R44 aan alle pad- en verkeersregulasies voldoen.

Tog word dié paaie se veiligheid (of tekort daaraan) nóg verder deur motoriste wat sinnelose haastigheid najaag en roekeloos bestuur, vererger.

“Die mense jaag soos duiwels die hoogtes uit terwyl motoriste poog om groot vragmotors naby plaasingange, waar die sperstrepe soms verkeerd geverf is, verby te steek,” het Buxman voorheen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article