’n Vrou is dood en nog 16 passasiers is Woensdagmiddag (1 Februarie) beseer nadat ’n enkele bakkie op die R44 tussen Wellington en Klapmuts gerol het.

Die ongeluk is omstreeks 18:15 aan nooddienste aangemeld.

’n Betroubare nooddienswerker het aan Paarl Post gesê die bakkie, met 16 vroulike passasiers agterop, het van die pad af gery, omgeslaan en gerol en weer op sy wiele beland.

“Een passasier is op die toneel dood, terwyl die ander 16 passasiers met ambulansdienste na die Paarl-hospitaal asook die Stellenbosch-hospitaal geneem is,” het die nooddienswerker gesê.

Die beseerdes se toestand het gewissel van geringe tot ernstige beserings.

Navrae is aan die Klapmuts- en Wes-Kaapse polisie gerig om die omstandige rakende die voorval te bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article