Die Bainskloofpas is uiteindelik weer oop nadat jare lange herstelwerk op dié pragtige pas uiteindelik voltooi is.
Die departement van vervoer en openbare werke het die tender in 2018 aan ERO Engineers toegeken.
Jandré Bakker, ’n departementele woordvoerder, sê die pas is op 15 Junie vir verkeer geopen. “Stop-and-go’s kan nog af en toe verwag word totdat al die werk heeltemal afgehandel is.”
Bakker verduidelik die werk het sypaadjieverbeterings, waar die pad geseël en herstel en die dreinerende sykanale verbreed is, behels. “Veiligheidsverbeterings is aan die messelwerk-muur en steenrotse op skerp afdraandes gedoen, terwyl sommige hellings gestabiliseer is.”
Bainskloof is ’n natuurlike monument. Die pas het talle breedte- en hoogtebeperkings en loop boonop deur ’n natuurreservaat.
“Die spanlede kon nie algemene padbou-beginsels vir beveiliging en strukturele verbeterings toepas nie, en moes uiteraard kreatiewe benaderings tot dié beperkings bewerkstellig.”
Die kontrak ter waarde van R317 miljoen het 517 korttermyn-werksgeleenthede vir plaaslike gemeenskappe geskep, terwyl ’n verdere 284 dae se werk toegeken is.
Voorheen in die Paarl Post berig:
Op enige gegewe dag, terwyl Andrew Geddes Bain (1797-1864) die Bainskloofpas gebou het, het tot 400 mans – meestal bandiete – aan die pas werk. Dit het die geharde rowwejanne vier jaar geneem om die pas van bykans 30 km in 1853 te voltooi.
Bain het geen formele ingenieursopleiding gehad nie, tog is hy een van Suid-Afrika se bekendste padingenieurs.
Die Bainskloofpas (R301) verbind Wellington met Ceres. Oorspronklik is die pas deur perdekarre en -waens gebruik. Destyds was dit die hoofroete na die noorde. Met die oopstel van die Dutoitskloofpas het die stand van sake verander.
In die Wellington-museum word hulde aan Bain en ander bekende Wellingtonners gebring.
Bain het in 1846 opdrag gekry om die pas te bou. Bouwerk het vroeg in 1849 begin. Die inligtingsborde by die museum wys teen April 1850 is reeds tot by Die Nek gevorder.
“Bain het ’n tonnel aan die westekant van die pas gebou om dit korter te maak, maar dit het ingesak en die idee is laat vaar.
“Bouwerk aan die volgende deel van die pas – aan die Worcester- of oostekant – het op 1 Januarie 1850 begin. Stutmure moes teen die skuinstes gebou word. Hiervoor is die afgewerkte klip, wat so kenmerkend van Bain se passe is, gebruik.
“Altesaam 11 brûe is gebou, waarvan die Pilkington- en die Borcherdsbrug die bekendste is.
“Die pas van 29 km, met klipstutmure van altesaam 16 km, is in 1853 teen ’n koste van £50 000 voltooi.”
- The Bains Kloof Pass was officially opened to motorists on 15 June after revamping started in 2018. Occasional stop and go points can still be expected while some of the work is being finalised.




