Dit is amper drie maande sedert die tragiese dood van die jong Booysen-broers van Wellington. Caleb (8), Gradwell (5) en Joshua (2) is al drie dood toe die voertuig wat hul oumagrootjie bestuur het, by Bainskloofpas van die berg af gery het.
Die oumagrootjie, Sarie de Villiers (60) het die voorval, wat op 20 November 2021 gebeur het, wonderbaarlik oorleef.
Vir die familie was dit ’n gewone Saterdagmiddag totdat die Wellington-polisie die hartseer nuus aan hulle gebreek het. Kort ná die ongeluk het Carl Smit, Sarie se seun en die Booysen-broers se oupa, gesê sy ma sou die kinders huis toe neem. De Villiers sou die kinders in New Rest, waar hulle woon, gaan aflaai het en daarna inkopies gaan doen vir ’n braai dieselfde aand. Teen 20:00 die aand het kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se bevelvoerder, die familie gevra om die motor te kom uitken.
“Hy het toe gesê ’n vrou en drie kinders is by Bainskloofpas af. Ons het onmiddellik geweet dit is my ma en die kinders. Ons het na die toneel gegaan. Die motor het so 80 meter by Bainskloofpas afgeval.”
Ten tyde van die ongeluk was die Wes-Kaapse departement van vervoer en padwerke besig met opgraderings by die pad op Bainskloofpas en dit was gesluit vir die publiek.
Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die departement, het aan Paarl Post gesê De Villiers het geweier om by stop-en-ry-punte stil te hou en “met mening deur die geslote valhek-beheerpunt op die pad gery”.
Al drie kinders is op die toneel dood terwyl De Villiers na ’n plaaslike hospitaal geneem is. Die ongeluk word deur die Worcester-polisie se speurtak ondersoek. AO Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, sê die ondersoekbeampte wag op die hospitaal se sielkundige en liggaamlike verslag van De Villiers. Sodra hy die verslae het, sal dit aan die staatsaanklaer oorhandig word, wat oor die saak sal besluit.
Paarl Post het Smit probeer kontak om te hoor hoe sy ma se herstel vorder, maar hy kon nie bereik word nie.




