Tydens Thobile Baba (69) van Mbekweni se hofverskyning Vrydag is beslis dat hy sy vonnis tot in lengte van dae moet uitdien nadat hy verlede jaar in die Paarl-streekhof op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind is.
Dit nadat streeklanddros Patrick Ross sterk teen die beskuldigde uitgevaar het wat ’n derde oortreder weens verkragting is.
Baba is tans in die Allandale-gevangenis en sal na verwagting twee vonnisse van lewenslank in die Drakenstein-gevangenis uitdien.
Daar word ook gelas dat sy besonderhede in die register vir seksuele oortreders aangebring word.
Dit volg nadat die saak vir die verkryging van impak-verslae wat betref die minderjarige kinders uitgestel is.
Die staat het gevra die hof moet vir Baba lewenslange tronkstraf oplê weens die erns van sy dade en dat hy uit die gemeenskap verwyder moet word.
Namens die Regshulpraad het C. van Harte egter aangevoer dat daar wel buitengewone omstandighede bestaan en het versoek dat die hof dié omstandighede in ag moet neem.
Van Harte meen dat die hof die volgende feite nie kan miskyk nie: Baba is 69 jaar oud; is blind in albei oë; die kinders is nie verder beseer nie; en hy word nou al vyf jaar aangehou.
Die hof se getuie het bevestig dat Baba se toestand baie verswak het en dat hy in albei sy oë sig verloor het.
Dis toe dat die hof sterk klem daarop gelê het dat Baba weer aan verkragting skuldig bevind is, “hierdie keer is dit twee onskuldige kinders wie se lewe nog voorlê”.
Die landdros meen dié submissie van omstandighede deur sy regshulp toon dat Baba oor sy dade geen berou toon nie.
“In 2008 is hy 12 jaar opgelê vir verkragting en in 2015 op parool vrygelaat. Hy het dié kans wat hy gekry het net so verspeel, want in 2017 het hy sy lus bevredig en die twee minderjariges verkrag.
“Dit toon duidelik dat daar geen salf aan hom te smeer is nie. In daardie stadium was hy nog op parool wat in 2019 sou verstryk.”
Wat vir die landdros verder kommerwekkend was, is dat Baba getoon het dat hy nie buite die gevangenis wil rehabiliteer nie.
Die hof het uiteraard bevind dat dit ’n baie ernstige daad is.
“Ons vroue en kinders is nêrens veilig nie. Kyk wat het met kleine Mia gebeur,” sê die landdros terwyl hy na Tamia Botha (4) verwys wat in September verlede jaar in Paarl-Oos dood gevind is nadat sy as vermis aangemeld is.
“Daar is net geen keer aan hierdie vergrype nie. Elke dag word 115 verkragtings gepleeg. Hierdie getalle neem by die dag toe. Suid-Afrika se syfers is erger as in lande waar daar oorlog is,” het die landdros sy verdere mening bygevoeg.
“Daar is geen genade vir u nie ten spyte van u blindheid. Die hof het ’n plig om te verseker dat u nie weer sulke wrede dade pleeg nie.
“Genoeg is genoeg,” lui die hof se uitspraak.




