Die omstrede B97-minibustaxiroete tussen Paarl en Bellville het verlede Donderdag (8 Desember) ná meer as ’n jaar heropen nadat dit noodgedwonge moes sluit as gevolg van taxigeweld.

Die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Daylin Mitchell, het die aankondiging gemaak. Die roete is sedert Julie 2021 gesluit nadat die twee taxiverenigings Cata en Codeta oor eienaarskap oor B97 baklei het.

Die bakleiery het in ’n bloedbad ontaard en baie mense het hul lewens in die proses verloor. Met die voortslepende taxigeweld was Mitchell toe genoodsaak om B97 te sluit. Hoewel ’n arbitrasieproses begin is, kon Cata en Codeta nog steeds nie tot ’n ooreenkoms kom om saam op die roete te werk nie. Die proses het maande geduur en die verenigings het uiteindelik September vanjaar ’n ooreenkoms onderteken.

“Verskeie vredesgesprekke en moeilike besprekings het die afgelope jaar plaasgevind, en ’n ooreenkoms is onlangs bemiddel oor die deel van die omstrede roete B97. Die memorandum van ooreenkoms sit uiteen hoe die toegekende bedryfslisensies verdeel sal word en hoe die onderskeie partye op die roete sal werk.

“Ingevolge die ooreenkoms sal bedryfslisensies op ’n gelyke basis (50 / 50) tussen die twee verenigings verdeel word in ooreenstemming met die vraag na dienste, soos aangedui in die vervoerplanne vir die gebied. Albei verenigings het hulle daartoe verbind om op te hou om nuwe lede te werf wat meer as passasiersaanvraag is en om nie toe te laat dat onwettige operateurs op roete B97 handel dryf nie.”

Die DA in die Wes-Kaap het ook die opening van die roete verwelkom. Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse DA-woordvoerder vir vervoer, sê hy hoop dat die ooreenkoms tussen Cata en Codeta dit vir die ander taxiverenigings moontlik sal maak om vriendskaplik te funksioneer op die betrokke roete sodat pendelaars ononderbroke dienste kan bly ontvang.

“Ek prys die provinsiale departement van mobiliteit wat hard gewerk het om te verseker dat die B97-roete heropen word en die ondertekende ooreenkomste tussen Cata en Codeta. Ek doen ook ’n beroep op Santaco om samewerkingsverhoudings tussen taxiverenigings in die Wes-Kaap aan te moedig sodat dienste nooit weer opgeskort hoef te word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article