’n Aanval op die Afrikaanse Taalmonument is ’n aanval op die Afrikaanse taal. ’n Aanval op die Afrikaanse taal is ’n aanval op die Afrikaanse gemeenskap.
Dit is nie net ’n aanval op ons as taalgemeenskap nie, maar ook op ons erfenis, kultuur en identiteit.
As die voorsitter van die DA se studente-organisasie in Stellenbosch is ek uiters geskok en teleurgesteld in die minister, Nathi Mthethwa, se oorweging om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander.
Ons verwerp hierdie ANC-aanval op die Afrikaanse gemeenskap ten sterkste.
Hierdie aanval is natuurlik ook duidelik ’n probeerslag om ons van ons inherente Afrika-erfenis te ontwortel.
Volgens die minister moet die naam verander word na ’n meer inklusiewe naam sodat dit ander tale kan insluit.
Hierdie uitlating is vir ons ’n duidelike aanduiding dat die agbare minister nog nooit by hierdie monument was nie.
Die bou van die Afrikaanse Taalmonument is reeds jare voor Apartheid bespreek ten einde die Afrikaanse taal te vier en te erken, maar ook eerder haar diverse geskiedenis te vier – ’n uitlopende geskiedenis wat aan die suidpunt van Afrika deur verskeie mense gevorm het.
Om die Afrikaanse Taalmonument se naam te skrap, is om net sowel die hele betekenis van die monument te skrap, want elke rots op hierdie monument vertolk ’n rol en simboliseer elk ’n bydrae tot die vorming van Afrikaans.
Die rotse stel die bydrae van die Khoi en die San, die eerste mense van ons land, voor. Die rotse stel ook die bydrae wat die invloed en bydrae van Afrikatale soos Xhosa, Zulu en Sesotho voor. Die rotse stel ook die bydrae van slawe voor – die bydrae van die Maleise slawe. En die rotse stel ook die bydrae van die Europese en Weste voor.
Dan, wat vir my die belangrikste is – die hoogste suil van hierdie monument, sowat 57 m, simboliseer die groei van Afrikaans as taal – ’n diverse taal; ’n diverse monument; ’n monumentale taal!
Om dus die naam te skrap, skrap jy ook die mening van elke rots op daardie monument, agbare minister.
Die monument is op 10 Oktober 1975 amptelik ingewy. Ons was toe al in Apartheid. Maar, meer as 40 000 mense van uiteenlopende agtergronde het die geleentheid bygewoon.
Die anti-Apartheidsaktivis en protesdigter Adam Small se gedig Nkosi Sikelel iAfrika is destyds hier voorgelees.
Vandag staan hierdie monument nog kiertsregop en is dit een van die mees diverse en inklusiewe nog.
As matrikulant aan New Orleans Sekondêre skool hier in die Paarl het ek die museum en monument gereeld besoek. Ek het aan verskeie programme deelgeneem – programme wat ’n groot invloed in my lewe gehad het. My skryf- en debatvaardighede is deur hierdie instansie se platforms bevorder.
Later was ek ’n jong vryskutwerker by die monument.
Dus kan ek uit my ervaring noem dat hierdie monument nie is wat die agbare minister dalk dink dit is nie.
Dit is reeds inklusief en divers.
Dit vier almal se bydrae tot die vorming van Afrikaans, die Afrikaans van vandag en Afrikaans in die toekoms – van die Moslems, die eerste mense wat boeke in Afrikaans geskryf het, tot die Kaaps wat ook nou ’n plekkie onder die son het.
Ook in die tuin van die monument is daar ’n groengalery waar verskeie diverse digters se gedigte uitgestal word.
Skrywers soos Adam Small, Koos Kombuis en Diana Ferrus se gedigte pronk daar.
Ek haal aan uit een van Ferrus se gedigte, wat lui: “Afrikaans is ’n versoeningstaal”:
Dit is, het hulle gesê
die taal van die onderdrukker.
Dit kom, het hulle gesê
uit die mond van Europa
Dit het, het hulle gesê
’n enkele styl – net een vir kommunikeer
maar uit die buik van Afrika kom sy
Uit die mond van slawe, Europeërs, inheemse volke,
dans sy op die maat
van oer-oue tromme en handgemaakte kitare,
dra sy kostuums van vele kleure
en sing sy in ’n duisend stemme.
Nou, ná die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg;
in die Afrika-renaissance vind sy haar weg.. William Sezoe is ’n derdejaar-onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch.




