Die Afrikaanse Taalmonument en -Museum (ATM) se raad, bestuur en personeel het met groot hartseer verneem van dr. William Langeveldt se dood op Woensdag 11 Januarie 2023.
Daarom het die raad besluit om ’n huldeblykdiens vir Langeveldt te hou wat sy nalatenskap asook sy bydrae tot die bevordering en beskerming van inheemse tale sou vier. Hierdie diens het onlangs by die Taalmonument plaasgevind waartydens ’n herdenkingsbank ook op die terrein onthul is.
Die huldeblyk is bygewoon deur die ATM se raadslede en personeel asook familie en vriende van Langeveldt, onder andere sy weduwee, Anne Langeveldt. Die hoofrede is deur Zenzile Khoisan, wat Langeveldt goed geken en nóú met hom saamgewerk het, gelewer. Tussendeur het Naidene Lottering, ’n jong digter en onderwyser, gedigte voorgedra. Anne Langeveldt het ook namens die familie die dankwoord gelewer. Ná afloop van die huldeblykdiens is die herdenkingsbank onthul.
William Langeveldt (1949-2023)
Langeveldt het sedert 1 Desember 2017 in die ATM se raad gedien en hy was besig om sy tweede termyn (2021–2023) in die raad te voltooi. Naas die ATM was hy ook ’n dienende raadslid van nog ’n DSSK-agentskap, die Amazwi Suid-Afrikaanse Museum vir Letterkunde.
Hy het onder meer in 1992 sy PhD aan die Universiteit van Iowa in die VSA behaal met die onderwerp “Reproduction versus resistance: student teacher’s and lecturers’ conceptions of the South African history curriculum”. Naas sy akademiese werk het hy ook gewerk as onderwyser, in munisipale bestuur, by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe asook in verskillende ander plekke en in verskillende hoedanighede.
As ’n gemeenskapsaktivis en denker was bekommernisse aangaande die Koi-San se taalregte en die bewaring van kulturele regte vir hom belangrik. Hy het ’n aktiewe rol gespeel in die mobilisering van Khoi-San-gemeenskappe om toegang tot grond en water te kry vir landbou-ontwikkeling en om voedselsekerheid te verseker. Die teikens was om armoede en honger uit te wis asook om die tale Khoekhoegowab of Nama in skoolopleiding te bevorder.
Van sy langtermyn-doelwitte was om Khoekhoegowab as een van Suid-Afrika se amptelike tale erken te kry met al die voordele wat dit vir die Khoi-San-gemeenskappe sal bring.
Hy was verder betrokke by die proses om navorsing te doen oor inheemse kennisstelsels binne Khoi-San-gemeenskappe vir ’n nasionale digitale biblioteek asook by die maak van ’n dokumentêr program oor hierdie kwessies.





