Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) nooi weer die publiek om geskikte kandidate te benoem vir die vyfde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R20 000 elk.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is dié eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936-2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.
“Die eerbewyse sal toegeken word aan mense of organisasies wat hul tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium gebruik om maatskaplike samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.
Die 2022-wenners sal in Oktober vanjaar by die ATM se Neville Alexander-gedenklesing deur die voorsitter van die raad aangekondig word. Die twee wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld van R20 000, geborg deur Naspers, wat ten behoewe van relevante taalprojekte aangewend kan word.
’n Elektroniese benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM teen Woensdag 7 September bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, besoek taalmonument.co.za of skakel 021 863 0543/872 3441.




