In die diepe duisternis van die onbekende, waarvan hy van ver reusagtige spikkels in sy blik aanskou, verwelkom Willie Koorts sy aftrede uit die sterrekunde.
Beter bekend as een van die medeaanbieders van Sterre en Planete wat Sondagaande op RSG se radiogolwe uitgesaai word, is Koorts ook ’n welbekende Wellingtonner.
Nie net groet hy ’n loopbaan vol verskietende sterre nie, maar groot eer het dié 65-jarige toegekom toe ’n asteroïed, wat in 2017 ontdek is, na hom genoem is.
“By my afskeidsgeselligheid vir my aftrede vandag (28 Februarie), het ek die grootste verrassing ooit ontvang! In samewerking met die Atlas-span van Hawaii en kollega Nic Erasmus (ons eie asteroïde-man), het hulle Asteroïde 618349 na my vernoem, naamlik ‘Asteroid Williekoorts’,” deel die trotse Koorts op Facebook.
Hy vertel aan Paarl Post dat ’n mens hom met ’n veertjie kon omtik.
“Dis nou regtig die laaste ding wat ek verwag het! Nie in my stoutste drome sou ek kon dink dat daardie eer my ooit sou toeval nie. Wow!”
Dis nie al nie. Nóg ’n toekenning, waarvan slegs 74 deur die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) uitgereik sal word, is as die derde van sy soort aan Koorts oorhandig.
Die toekenning, Order of the 74, verteenwoordig buitengewone diens aan SAAO. Koorts verduidelik dat die 74 na die 74”-Radcliffe-teleskoop in Sutherland verwys. Dit is die land se oudste teleskoop, dateer uit 1938 en is steeds die tweede grootse teleskoop in Suid-Afrika – asook sy gunsteling.
Koorts se liefde vir die hemele het ontstaan ná jare waartydens hy as ’n elektroniese tegnikus aan teleskope gewerk en dit herstel het.
Sy kundigheid bestaan uit charged coupled devices (CCD’s), kriostate, algemene elektronika en meganika vir byna elke teleskoop op die terreine waar hy gedien het. CCD’s, of lading-gekoppelde toestelle, is sensitiewe detektors van fotone wat in teleskope gebruik kan word in plaas van film of fotografiese plate om beelde te produseer.
Koorts was ook instrumenteel in die konstruksie van die NEO-jag-Atlas-teleskoop in Sutherland.
Atlas is ’n vroeë-impak-asteroïde-waarskuwingstelsel wat deur die Universiteit van Hawaii ontwikkel is en deur Nasa gefinansier word.
Dit bestaan uit vier teleskope wêreldwyd, waarvan twee in Hawaii, een in Chili en die ander een in Suid-Afrika is. Die teleskope skandeer snags verskeie kere die hemelruim outomaties op soek na bewegende voorwerpe.
Atlas se werk behels ook om ’n waarskuwingsperiode te verskaf afhangende van die grootte van ’n dreigende asteroïed. Groter asteroïdes kan verder van die aarde af opgespoor word.
Atlas sal uiteraard ’n klein asteroïed van sowat 20m ’n paar dae vooruit sien terwyl ’n 100m-asteroïed ’n paar weke vooruit gesien kan word. ’n 100 meter lange asteroïed het ongeveer 10 keer die vernietigingskrag van die onlangse Tonga-vulkaanuitbarsting.
Koorts het byna vier dekades deel van die land se sterrewag gevorm toe hy op 1 Mei 1987 by die SAAO in Sutherland begin het. Later jare is hy na die hoofkantoor in Observatory, Kaapstad, verplaas.
Toe Koorts gevra word watter planeet sy gunsteling is, sê hy dit vertel juis die storie agter sy fassinasie met sterrekunde.
“My gunsteling-planeet is natuurlik Saturnus. Ek moes nie lank nadat ek as tegnikus begin werk het nie ’n teleskoop in Sutherland gaan regmaak. Toe die werk gedoen is, vra die een sterrekundige daar of ek Saturnus wil sien, aangesien ek in die omgewing is.
“En dis toe ek die pragtige reus sien met haar ring, wat met die teleskoop se lens sommer so driedimensioneel uitgestaan het.”
Van daardie oomblik af het hy verskeie rekenaar- en sterrekunde-kursusse aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi.
Dié sterrekyker is ook ’n lid van die Orion-observasiegroep (Oog), ’n sterrekykersklub wat byeenkomste waar die hemele in al sy glorie bekyk word, aanbied.
Beurtkrag is vir sterrekykers soos hy ’n groot plesier. Dit is wanneer die wêreld in duisternis verdrink om die glinsterende sterre te verhelder.
“Met Oog se 20 jaar-viering waar ons destyds op die plaas Simonsvlei die klub gestig het tydens ’n Sterre en Planete-sterrekykaand, het ons die donker nag saam by die Afrikaanse Taalmonument (ATM) bewonder. Ons ATM is ook ’n gunsteling om die sterre te bekyk, al is dit nie só donker in die omliggende gebied nie. Kyk, ons sterrekykers hou nou weer van beurtkrag, jong!”
Noudat hy amptelik van sy professionele pligte verlig is, sê Koorts hy het oorgenoeg stokperdjies om hom besig te hou.
“Van my vele stokperdjies sluit in fotografie wat in ons vallei ’n groot plesier inhou. Andersins is ek doenig met robotte of toestelle wat ek self bou om satelliete snags mee te jag.”




