Die Wes-Kaapse departement vir infrastruktuur is in die proses om die asbesdakke van Ebenezer Primêr te verwyder as deel van ’n projek wat deur dié departement behartig word.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het die projek aan Paarl Post bevestig.
Sy sê die projek vorm deel van die departement van infrastruktuur se voorkomende instandhoudingsprogram.
“Die projek se beoogde voltooiingsdatum is in Augustus vanjaar en sluit in die vervanging van asbesdakke met nuwe dakplate, opknapping en instandhouding van ablusiegeriewe, elektriese installasie, brandtekens, deure en vensters.”
Volgens Ntobeko Mbingeleli, woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur, Tertius Simmers, het die projek reeds op 25 Januarie vanjaar begin en beplan hulle om teen 12 Desember klaar te wees.
Paarl Post het vir Mbingeleli gevra hoe die verwyderingsproses sal werk aangesien asbes baie gevaarlik is vir die gesondheid van mense.
Paarl Post het ook gevra hoe die departement te werk sal gaan met die verwydering van die dak met onderwysers en leerders wat die week teruggekeer het skool toe ná die Paasfeesvakansie en weer op die terrein sal wees.
“Alle asbesverwyderings moet gedoen word onder die koördinering en leiding van ’n geregistreerde asbesspesialis wat die riglyne vir die verwydering uiteensit, en ook verseker dat alle nodige gesondheids- en veiligheidsmaatreëls toegepas en nagekom word,” sê Mbingeleli.
“Hierdie verwyderings word beplan en geïmplementeer op ’n wyse wat verseker dat die werke in ooreenstemming met die regulasies uitgevoer word, om te verseker dat die gesondheid en veiligheid van kontrakteurs en gebruikers van die fasiliteit nie in gevaar gestel word nie.”
Die doel van die voorkomende instandhoudingsprogram, sê Mbingeleli, is: “Om ’n pro-aktiewe bestuursbenadering te vestig met die fokus op die ontwikkeling van ’n bate-versorgingstrategie vir die portefeulje van bestaande skole in die Wes-Kaap. Met die kritiese komponente-benadering as fokus, poog hierdie projek om te verseker dat bates oor die ontwerpleeftyd voldoen aan die voorgeskrewe kwaliteitstandaarde, en om sodoende ’n funksionele skool in stand te hou.”
Ebenezer Primêr is nie die enigste skool in Drakenstein waarvan die asbesdakke verwyder sal word nie. Ander skole waarvan die asbesdakke as deel van die projek vervang sal word, is Alfons Primêr in die Paarl en Imboniselo Primêr in Mbekweni.
Die vasgestelde tyd van wanneer die werk by die twee skole sal begin, is nie bevestig nie.
. The asbestos roofs of Ebenezer Primary are being removed as part of the Preventative Maintenance Programme project, which has been established by the Western Cape Department for Infrastructure. The department will also remove the asbestos roofs of two other schools in Drakenstein.





