Die gesegde lui: “If you can’t beat them, join them!”

Wel, die munisipaliteit en die inwoners van Bergrivier Boulevard moet maar vir lief neem met die feit dat die inwoners van die Paarl-Oos en Wellington altyd die rivier sal opsoek as die kwik in die Paarl so geweldig styg.

Baie mense het nie die geld om by swembaddens te betaal of selfs na die naaste strand te ry nie. Hulle soek ook maar net lafenis teen die versengende hitte.

Ons almal weet dat die mense dan die naaste rivier sal opsoek. In Paarl-Oos en Wellington kan dit in die Bolandse somermaande ondraaglik warm word.

Dit is onregverdig om te dink dat net die inwoners naby Bergrivier Boulevard die regte het om die rivier te geniet. Die rivier behoort aan al die inwoners van die Paarl. Almal het gelyke regte tot die rivier.

Dit is nie ’n geval van “die rivier is hier by ons en daarom het ons alleenreg daartoe nie”. Nee, die Bergrivier is almal se rivier.

Al probleem is net: mense wat rommel strooi, die geraas van die musiek wat tot laat in die aand aanhou, en wanordelike en onsedelike gedrag.

Oplossing: Wetstoespassers moet heeldag tussen die mense beweeg en monitor dat alle aktiwiteite ordelik en binne die reëls geskied.

Rig ook ablusiegeriewe op. Laat die mense saans net tot op ’n sekere tyd kuier – miskien agtuur of so?

My pleidooi is: Laat almal die rivier geniet; monitor die situasie met wetstoepassers; maak die rivier langs die oewer skoon sodat dit veiliger vir die mense sal wees om daar te swem; rig meer “spreiligte” op sodat die hele gebied meer verlig in die donker sal wees; sit borde langs die rivier op met die reëls wat geld; deel pamflette tussen die oewerbesetters uit; praat mooi met almal en respekteer die mense.

Die munisipaliteit gaan net die situasie bemoeilik en die mense opstandig maak deur hulle hardhandig daar te wil verwyder.


P.C. Jordaan,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article