Laetitia Cupido (66), beter bekend as “Antie Tisha”, ondersteun dié wat swaarkry en op ’n tweede kans wag. Foto: Heleen Rossouw


Al wat in Wellington meer bekend is as “Antie Tisha”, is haar diep geloof in tweede kanse.

Vir die ware haweloses en dwelmverslaafdes in dié dorp, is Laetitia Cupido ’n geskenk van Bo – daar waar sy op sypaadjies en in systraatjies wandel om warm kos en ’n bemoedigende woord uit te deel.

“My grootste mikpunt vir dié wat swaarkry en besluit om die pad na verbetering aan te durf, is om hul menswaardigheid te genees en te herstel.”

In haar vorige “leeftyd” van 19 jaar, was Cupido eers ’n onderwyseres by onder meer Wellington Primêr. Sy was ook vir twee jaar ’n huismoeder vir die kinders van Huis Andrew Murray.

Ná haar amptelike aftrede uit die onderwys, het sy haar passie vir kinders uitgeleef as die bestuurder van ’n grys Volkswagen-bussie, wat skoolkinders van verskeie skole vervoer. Wanneer sy nie kinders op haar roetes karwei nie, bring dié sestigjarige elke minuut deur om haar “kinders” op straat te voed, te klee en op die regte pad te wys.

“Ek koop elke dag by OK die R5-broodjies en bekostigbare goedjies wat ek uitdeel wanneer ek kans kry. In die koue maande maak ek sommer lekker warm sop, wat ek in koppies verpak en aflaai waar my mense skuil.”

Menslikheid is die voorpunt van haar gedagtes en bedagsaamheid – al 365 dae van die jaar.

Cupido en haar span handige helpers maak jaarliks voorsiening vir ’n jolige Kersfeesmaaltyd met haar begunstigdes as eregaste. Soos voorheen berig is, is dit ’n deftige fees vol vrolike versierings en skoenbokse vol geskenkies, alles met die begeleiding van Kersliedere.

As ’n gebore en getoë Wellingtonner is sy een van vele wat jare lank om ’n veilige en doelgerigte plek van “hawe” vir die “-loses” in die dorp veg.

“Dit is my hartsbegeerte dat Wellington ’n nagskuiling moet hê, omdat ek betrokkeis by dié mense. Ek ken hulle persoonlik, op die naam, en ek weet presies wie is wie. En daarby hoop ek dit sal ’n ordentlike nagskuiling wees.”

Sy glo dié wat aangestel word om die Wellington-nagskuiling te bestuur, hulle goed van dié taak sal kwyt.

“Die doel van die nagskuiling is om die begunstigdes van só fasiliteit as funksionele en selfstandige mense in die samelewing te herintegreer en opnuut te leer om selfversorgend te wees. Die doel is nie om sommer net aan enige drosters, skollies en kwaaddoeners skuiling te bied nie.”

In Wellington, meen Cupido, moet onderskeid getref word tussen dié wat werklik sonder hawe sit, en dié wat “kies”om op straat te wees. “Hier is omtrent 35 tot 50 werklike haweloses – mense sonder enige ander heenkome, kind of kraai. Die res is kwaaddoeners wat almal families en ’n huis hier in die dorp het.

“Sommige op straat verkies om daar te wees as gevolg van hul verslawing aan dwelms, en dié wat nie die dissipline van hul huishoudings wil gehoorsaam nie.”

Sy vertel hoe baie haweloses snags in vrees in blootgestelde omstandighede – die winterkoue en gevare van viktimisasie en diefstal – moet slaap.

“Hulle word gereeld deur van die kwaaddoeners geteiken, en van die min besittings wat hulle het, word dan net so gesteel.”

Haar onbaatsugtigheid ken geen perke nier en sy dra selfs dwelmverslaafdes in haar hart.

“My hart reik uit na dié wat met verslawing worstel en in hul gedrag wys dat hulle ’n ommekeer in hul lewe nastreef.”

Een ná die ander vertel Cupido die suksesverhale van veelvuldige individue wat haar doelgerigte leiding en ondersteuning ontvang het.

Cupido handhaaf ’n diplomatiese verhouding met Die Ark-rehabilitasiesentrum in Eersterivier. Dis waarheen sy die verlorenes stuur om die pad na genesing aan te durf. Sy help selfs diegene stap vir stap om hul identiteitsdokumente, ’n nuwe klerekas en tuberkulose-toetse in orde te kry – alles deel van die protokol om in die sentrum opgeneem te word.

Cupido se passie vir mense loop oor.

Hoe dan só?

“God het my waarlik met ’n lieflike seun van my eie geseën. Hy is so erg oor sy ma.

“Aangesien ek so geseënd is, wil ek graag ander families met hul verlore skapies herenig en gelukkige mense van hulle maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article