Anna Stander (100) was dankbaar en vrolik om haar verjaardagviering saam haar twee dogters Erma Olivier (naasregs) en Alida Burger (regs) te geniet. Die partytjie is saam met raadslid Nical Sauerman (agter) wat die pragtige koek bestel het, en Yvonne Booysen van Silwerkruin-aftreeoord gevier.



’n Klassieke koek-en-tee-partytjie is verlede Vrydag by Silwerkruin gehou ter viering van Anna Elizabeth Stander (Grobbelaar) se 100 ste verjaarsdag.

Anna is op 20 Maart 1922 gebore en het op Kalmoesdam-plaas (vandag bekend as Saint Malo) in Wellington grootgeword in die huis wat deur haar pa gebou is. Die huis staan vandag nog op die plaas, vertel haar dogter, Erma Olivier.

Haar twee dogters, Erma en Alida Burger, het vir haar ’n fraai teepartytjie gereël waar raadslid Nical Sauerman ook teenwoordig was. Daar was ’n pragtige koek wat spesiaal met ’n foto van Anna se glimlag daarop gebak is.

Erma ken haar ma se lewensverhaal asof dit haar eie is, en sê dat Anna in 1939 by die Girls’ Seminary (nou Hugenote-kollege) op 17-jarige ouderdom gematrikuleer het.

“Sy wou so graag verpleegkunde- opleiding ontvang het, maar sy was te jonk en moes wag tot sy 18 geword het voor sy daarmee kon begin. Sy het toe haar opleiding by die Groote Schuur-hospitaal voltooi en sê gereeld dat as sy haar lewe moes oorhê, sy dié loopbaan weer sou kies,” vertel Erma.

Anna het in 1949 trou aan Johan Stander in Kaapstad beloof, waar hulle saamgewoon het en hul gesin begin bou. Sy en Johan het vir ongeveer 30 jaar in die Strand ’n rustige afgetrede lewe geniet.

“Net voor Covid-19 die land getref het, het sy geval en haar heup gebreek. Dit is toe ons gesamentlik besluit het dat sy nie meer op haar eie kan bly nie, en het dit goed gedink dat sy in haar geboortedorp versorg word.”

Anna noem Silwerkruin al die afgelope twee jaar haar tuiste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article