Die Real Housewives van die Wynlande is nou al ’n paar weke op die kassie, wat plaaslik reuse-omstredenheid gelok het – veral vanweë Anita Lloyd se eienaardige en wispelturige persoonlikheid, wat ’n wye spektrum van menings ontlont het.
Maar tog kry Anita dit reg om só ’n geurige bestanddeel in die brousel te wees dat ’n mens dit sal mis sou sy nie deel van die bestanddele wees nie.
“Ek het dit beskou as ’n avontuur – iets anders en iets nuuts om aan te pak. Dit het ’n groot invloed om jouself onder ’n vergrootglas te sien en te ervaar. Ek kry ook gereeld mense wat my voorkeer en vra vir ’n foto saam, en natuurlik sien ek ook die afkeurende kyke raak,” deel Anita oor haar daaglikse ervaring nadat dié werklikheidsreeks golwe in die media gemaak het.
“Maar,” vertel sy, “ná maande van herwaarts en derwaarts hardloop vir al die produksietye, het ek darem nou weer tyd vir myself.”
’n Opmerklike kwelpunt wat menige kyker uitgewys het, was dat die meeste van die Real Housewives nie ware Wynlanders is nie, maar eintlik uit onder meer Gauteng kom.
Anita sê egter sy het self nie in die Boland grootgeword of hier skoolgegaan nie “en [ek] kan dus onmoontlik in ‘murg en been’ ’n ware Bolander of Wynlander wees. Maar ek geniet en waardeer die kultuur – die mense is die sout van die aarde!”
Waar Anita vandaan kom, is nie juis ’n etiket waarmee sy haarself brandmerk nie.
“Baie mense spot met al die ‘inkommers’, maar ek sê maar net altyd ek is ’n terugkommer. Ek beskou myself as ’n trotse Suid-Afrikaner. Ek het in Natal grootgeword, ses jaar in Bloemfontein deurgebring, toe 15 jaar in Johannesburg. En toe moes ek oppak agter my man se werk aan . . .”
Sy vertel verder hoe sy en haar man, Boyce, byna 10 jaar lank in die buiteland – in lande soos Angola, hoër op in Afrika en Honduras, ’n Sentraal-Amerikaanse land met kuslyne van die Karibiese see – deurgebring het.
“Ons het altyd geweet ons kom terug, en in 2016 het ons die geleentheid gekry om terug te keer Suid-Afrika toe. Ek woon nou al amper sewe jaar hier. Dit is ’n vreeslike mooi deel van ons land en ek geniet veral dié winterweer. Ons het pragtige dae in die somer, maar daardie dae bo 40 grade is darem té erg!”
Anita staan bekend as die een met die “los mond”, en ’n veeltalige mond daarby, aangesien sy BA-Ed (Tale) en ’n honneursgraad in Bloemfontein agter die rug het, sowel as ’n meestersgraad in linguistiek aan die Universiteit van Natal, wat op die verwerwing van taal gefokus het.
“Ek het vir 16 jaar as ’n egte ‘tale-juffrou’ skoolgehou, met al die berge nasienwerk wat daarmee saamkom. Ek het Afrikaans, Engels en Duits onderrig. Ek kry nie baie geleentheid om Duits te praat nie, en dit verroes dus ’n bietjie, maar ek kom redelik oor die weg met alledaagse gesprekke.”
Sy verstaan dat haar kleurvolle taalgebruik ’n prominente onderwerp onder die reeks se kritici is. “Ek verstaan dat mense dus die indruk het dat ek baie swets. Ek trek ook maar los as ’n taxi voor my inry, maar ek vloek regtig nie heeldag en aldag nie.”
’n Mens moet in ag neem, meen sy, dat soveel ure en oomblikke oor ’n tydperk van baie maande geskiet word, “en dan word dit in ’n paar kort minute vasgevang”.
Hoe hanteer sy die negatiwiteit wat die reeks ontlont het persoonlik, en nou ook in die openbaar?
Anita sê sy het al baie negatiewe en positiewe kommentaar ontvang.
“Dit is moeilik om negatiewe kommentaar te ontvang en te verwerk. Maar ek verstaan natuurlik die oorsprong en rede vir van hierdie kommentaar, en dit help om hierdie perspektief te hê – as ’n mens weet hoekom, dan leer jy daaruit,” bieg Anita.
“Daar is darem positiewe kommentaar ook, en dit is verblydend. Dit is aardig om jouself só op televisie te sien, veral wanneer sommige gesprekvoering nie al te waffers ná die uitsending verouder nie.
“ ’n Mens is dit gewis nie gewoond nie! Soveel word te midde van formele en ook informele situasies op kamera vasgevang. Ek het op ’n tydstip gesê ‘ons dien die geldgod’.
“Dís nou ’n uitlating waaroor ek baie jammer is en iets wat nie werklik verteenwoordigend van my waardes is nie. Ek sou dit graag wou uitvee; ek wil werklik nie daarvoor onthou word nie. Maar dis opgeneem en toe uitgesaai, en dis ’n jammerte . . .”
In die algemeen is daar die verwagting dat mense met rykdom steeds ’n gevoel van nederigheid moet betoon. Anita was egter eerlik en prontuit oor die feit dat ’n paar rand in die bank haar veilig en gemaklik laat voel.
“Tog, op 55-jarige ouderdom is ek terdeë daarvan bewus dat ’n mens sonder die gawe van goeie gesondheid eintlik niks het nie.”
Spontaan nes sy is, waardeer sy die ervaring dat nie alles van die nuwe beroemdheid wat sy verwerf het, slegs negatief is nie.
Anita sê dit was lekker en interessant om so baie nuwe mense te ontmoet en nuwe ervarings te hê. “En ’n mens leer ook die ander vroue baie goed ken – elkeen uniek in hul eie reg.”
Nadat soveel episodes die lig gesien het, hoe voel haar binneste wanneer die storie op die skerm flikker?
“Soms lê dit soos ’n berg voor my, en ander oomblikke onthou ek al die lekker gebeure en tye saam met die vroue sowel as die produksiespan. Ek hoop die produksiemaatskappy kon dit vasvang en sal dit so aan die kykers oordra – en dat die kykers dit kan geniet vir wat dit is.
“Dit is wel ’n werklikheidstelevisiereeks, maar ek dink nie mense besef dit behels tog ’n mate van ‘rolverdeling’ nie.”
Anita meen sy het aanvanklik ook nie die geneigdheid waartoe rolverdeling kan plaasvind, besef nie.
“Dit help nie almal is stil en stemmig nie – iemand moet maar ’n gesprek probeer aanvuur, hetsy deur humor of omstredenheid of sommer net stirring the pot. Ek dink ons groep vroue was darem redelik oor ’n spektrum van persoonlikhede verdeel, wat natuurlik vir die vermaaklikheidswaarde nodig is!”





