Dis binnekort weer tyd vir die Waterblommetjiefees by Windmeul en kranige potjiekosmakers word genooi om aan die potjiekoskompetisie deel te neem.
Die fees word op 7 September by Windmeul Kelder gehou.
Wat kan gewen word?
Die algehele wenner kry ’n wyn-geskenkbewys van R1 750, die beste tradisionele pot wen een van R1 250, en die beste nie-tradisionele potjie ook een van R1 250. Die tweede en derde beste potte wen ook wyn-geskenkbewyse en die beste stalletjie ’n wyn-geskenkboks.
Die inskrywingsfooi van R200 per pot sluit in een bottel wyn, 1 kg waterblommetjies, hout en ’n braaidrom.
Deelnemers is verantwoordelik vir hul eie gazebo, stoele, sambrele en versierings volgens die tema “Plaaskombuis”. Hulle is ook verantwoordelik vir enige ekstra braaibehore.
Geen vooraf bereide disse mag in die pot gebruik word nie; alle geregte en bykosse moet op die perseel op die vuur gaargemaak word. Enige bygeregte mag gebruik word, mits dit op die vuur gemaak word. Dit sal egter nie vir die beoordeling van jou pot tel nie.
Die dag is ’n hoogtepunt op die kalender van die vallei. Plekke is beperk; skryf dus nou reeds in.. Stuur e-pos na wines@windmeul.com vir inskrywings en nog besonderhede.
Inskrywings sluit op 23 Augustus.





