Dié oudleerders van Hillcrest Primêr is Washied Louw, Nazley van de Rhede, dr. Adriaan Engelbrecht, Petronella Baron, Annemarie Smith en Rowan Johnson.

Credit: SYSTEM

’n Aantal oudleerders van Hillcrest Primêr in Wellington, wat hul laerskoolloopbaan in 1996 voltooi het, het dit goedgedink om in die feestyd in hul alma mater terug te ploeg.

Hulle beklee verskeie beroepe – ’n veearts, pastoor, bankbestuurder, polisiebeampte en maatskaplike werker – ten spyte van hul destydse moeilike omstandighede.

Dit het intussen onder hul aandag gekom dat baie leerders ’n groot behoefte het. Hierdie onderskeie oudleerders was in Oktober 2021 deel van ’n beroepsdag vir graad 7-leerders.

Hulle het die leerders toegespreek oor hul omstandighede en dat dit leerders nie moet weerhou om hulle hul volle potensiaal te laat bereik nie.

Die oudleerders het intussen gehoor sommige leerders was bekommerd dat hul ouers dalk nie eens geld vir die nuwe skooljaar het nie. Dit is toe dat die inisiatief begin het om geld as hulp vir nuwe skooluniforms in te samel.

Die geld het só mooi gegroei dat volle uitrustings vir leerders geborg is, maar dit het nie daar gestop nie. Die res van die geld is in Januarie gebruik om kospakkies en selfs skryfbehoeftes aan verskeie leerders te skenk.

Dié mooi gebaar het gewis ’n verskil in baie se lewe gemaak en weer hoop in sommige van dié leerders se hart geplant.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article