Dit gaan my verstand te bowe hoe dit ’n norm geraak het vir mense om orals blatant vullis te strooi en geen sin van waardering en respek vir ons pragtige omgewing het nie.
Ek dink baie mense het nou daardie houding aangeneem van “iemand gaan dit kom opruim; dis mos hul werk”.
Ons dink nou al so min van ons omgewing dat jy sien hoe mense letterlik by hul hekke sal uitstap en die rommel oorkant die pad gaan strooi.
Ek het die ander dag verby Groenheuwel in Bo-Dal Josafatstraat gery – dit is ’n absolute gemors daar.
Jy sien meer vullis as enigiets anders. Dit is maar een van vele gebiede oor die Paarl en ek dink die Drakenstein heen waar oop stukke grond in onwettige stortingsterreine ontaard.
Ons is dan baie vinnig om die vinger na die Drakenstein-munisipaliteit te wys, maar eintlik het ons ’n gesamentlike verantwoordelikheid om hierdie probleem aan te pak.
Neem foto’s, spreek mense aan, meld hulle aan indien nodig. Ons amptenare het reeds hul hande vol om basiese dienslewering te bewerkstellig – kom ons doen ons deel en hou ons dorp skoon.




