Loeriesfontein sal altyd ’n eerste plek in my hart hê, want dis die dorp van my grootwordjare.

Ek was daar in die skool – van Sub A tot Std. 8. Volgens Mnr. Slim val die dorp in die area Hantam, maar vir my en die boorlinge daar sal dit altyd Boesmàland wees en nie Boesmanland, soos geograwe en taalpuriste dit noem nie.

Soos in alle klein dorpies het almal mekaar geken. As koshuiskind was jy gou bekend met almal se wie en wat en status in die gemeenskap – geweet waar elkeen woon; geweet wie die grootste huis het; wie trek spoggerig aan vir Sondagoggend se kerkbesoek om voor in die kerk op ’n spesiale plek te sit waar dik, opgestopte kussings vir hulle wag.

Ook het ons geweet watter elf gereeld Woensdagaande se biduur bywoon en wat om te verwag van hul gebede. Sommige het gereeld aan’t huil gegaan oor hul sonde wat hulle net nie kon oorwin nie.

Ons koshuiskinders was verplig om Woensdagaande se “smart” by te woon. Die rede daaragter was nie juis lofwaardig nie. Ons moes dominee se gehoor aanvul, en dit was terselfdertyd ’n poging om ons sondige siele te red. Laasgenoemde was nie baie suksesvol nie.

Ons het ook geweet van sekere inwoners se donker dade. Daar was die minder eerlikes, die ultra-rykes se jare lange baklei oor ’n testament en die anti-kerkgangers omdat hulle nie van die predikant gehou het nie.

Dan was daar ook die getroude ooms wie se hormone op ’n permanente roete-mars was en van bed tot bed gesluip en altyd ’n meer as vriendelike ontvangs daar gekry het.

’n Koshuis is die plek waar die kinders allerhande goeie en slegte dinge hoor.

Tussen al hierdie was een wat ons kinders se verbeelding aangegryp het, Ant Koesie. Ek weet steeds nie wat haar regte naam was nie en ook nie hoekom Koesie nie?

Sy was mooi – effe ronderig – en het in die grootste huis in die dorp gewoon. Sy was ’n mededinger vir spoggerig aantrek. Ons het nooit iets leliks van haar gehoor nie, behalwe dat sy jou graag gesoengroet het, en dan byt sy jou. Wáár het niemand gesê nie. Ons was vreesbevange vir haar en ek het rêrig gebid dat ek nooit ’n verpligte besoek by haar moes bring nie.

Een namiddag in ons koshuis-aftyd kuier ek by my ouma Letjie Suikerbrood, met wie ek ’n besondere band gehad het. Sy vertel my toe ’n storie van Ant Koesie, wat kort tevore gebeur het. Sy het ’n ewe smart suster gehad wat iewers in die Boland gewoon het, en dié het vir twee weke by haar kom kuier. Hulle twee en nog ander het by ouma Letjie kom tee drink.

Soos ek nou weet, gesels ’n mens oor allerhande goed, en uiteindelik kom dit by godsdiens en geloofsake. Sê Ant Koesie toe, hulle álmal weet mos van Die Smal en Die Breë Weg, wat in haar huis hang. Ook dat op Die Breë Weg ’n klomp vrolike mense is wat allerhande sondige goed geniet.

Aan die einde van die pad wag Satan hulle in. Daarteenoor is Die Smal Weg ’n kronkelende paadjie berg-op met allerhande versoekings waarby jy moet verbykom. Daar is net ’n paar mense op pad, krom gesukkel om bo te kom, en voor die hemelpoort lê ’n leeu.

Ant Koesie was baie in haar skik met haar smal-pad-oorwinnings en sê sy is by alles verby en moet nog net by die leeu verbykom. Net daar kry die ernstige gesprek ’n parmante knou toe haar suster afhaak met “En Koesie, ou suster, nou sê ek vir jou, net daar sal jou dingesse (k..) ook spat”.

Ant Koesie en haar suster het nie verder gekuier nie en die res kon nie help om steeds te lag nie. Op daai oomblik was dit vir my ook snaaks, maar later was ek in my kinderhart jammer vir haar.

Die afgelope tyd het ek gesukkel op die Smal Weg en ek was bly die leeu het nie om die eerste draai gewag nie. Ek kon net nie verbykom by growwe swetse wanneer ek weer hoor dat mense, wat nog nie ’n kwart sent tot die staatskas bygedra het nie, my dorp vandaliseer en orals afbrand, verwoes en steel nie.

Gelukkig is dit net ek en Hester in die huis op die bult, en my eer word dus beskerm, maar ongelukkig nie my siel nie. Heilig was ek nooit, maar onvanpaste taalgebruik was allermins deel van my geselskap tot hede. Ergste was dat ek die swetsery geniet het totdat ek weer onthou het van die storie van Ant Koesie en die leeu.

Besluit ek toe: Maak nie saak hoe goed en lekker ek vloek nie, dit sal die sonder-omgee-spul nie verander of verbeter nie, en ook nie die ANC nie. My lekker, kleurvolle woordeskat is wel in onbruik, maar op die Smal Weg was niks van bose wense nie . . .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article