’n Groep menseregteaktiviste van onder meer die Paarl en Klapmuts sê hulle is besig om voorvalle van beweerde onreëlmatighede en wanpraktyke by die Paarl-hospitaal aan te teken om uiteindelik te eis dat die provinsiale gesondheidsdepartement met ’n kommissie van ondersoek by dié hospitaal begin.
Die aktiviste se eise kom te midde van ’n vlaag plasings op sosiale media oor hoe lank pasiënte moet wag voordat hulle mediese behandeling ontvang.
In sommige van hierdie voorvalle is pasiënte dood en hul dood word daaraan toegeskryf dat hulle nie betyds deur mediese personeel gehelp is nie.
Die onlangse dood van Shannon Cortereal (17) van die Paarl het ook die kollig geplaas op die omstandighede waaraan pasiënte by die hospitaal blootgestel word.
Paarl Post het verlede week berig dat Shannon in die Paarl-hospitaal dood is nadat sy griep ontwikkel het, wat later “erge longontsteking” geword het.
Marthinus Gouws, ’n gemeenskapsleier en menseregteaktivis van die Paarl, en Veronica Galant, wat ’n soortgelyke rol in Klapmuts vervul, is deel van die aktiviste wat vandeesweek hul kommer oor die omstandighede by die hospitaal uitgespreek het.
Volgens Gouws het Shannon op die dag van haar hospitalisering glo 12 ure gewag voordat mediese personeel haar gehelp het.
“Sy is een van vele slagoffers van ’n gebrekkige stelsel by hierdie hospitaal.
“Ons stryd is nie met die mediese personeel is nie, maar met die feit dat die hospitaal duidelik nie genoeg personeel en behoorlike toerusting het om ons mense te help nie,” het Gouws gesê.
Hy sê die meeste klagtes kom uit die hospitaal se ongevalle- en kraameenhede.
“Ons mense word soos honde behandel.
“Ons het verskriklike stories ontvang van die omstandighede waarin vroue die lewe moet skenk.
“Daar is ook voorvalle waar pasiënte die verkeerde medikasie ontvang het.
“Ons ondersoek ’n geval waar ’n kind dood is – vermoedelik weens verkeerde medikasie.
“Hierdie is ernstige voorvalle en ons hoop dat die provinsiale gesondheidsdepartement en gevolglik die nasionale regering hierdie in ’n ernstige lig sal beskou,” het hy gesê.
Volgens Gouws is hulle tans besig om ’n aantal ernstige voorvalle aan te teken, en dit gaan deel wees van hul eise aan die gesondheidsdepartement.
Francois van der Watt, die hospitaal se uitvoerende hoof, het vandeesweek by navraag aan Paarl Post gesê vir die huidige boekjaar (2024-’25) het die Wes-Kaapse departement van gesondheid ’n begroting van R30,48 miljard ontvang, wat ’n verhoging van 2,5% is teenoor die vorige boekjaar se begroting van R29,78 miljard.
“Weens die feit dat dié verhoging nie tred hou met inflasiesyfers nie, beteken dit dat die departement in werklikheid ’n afname in sy begroting het en die koste van stygende inflasie moet ingereken word.
“Pasiënte gaan die impak van hulpbronbeperkings ervaar, insluitend langer wagtye in ons noodeenheid (ongevalle) sowel as langer wagtydperke vir operasies en ander prosedures.”
Hy sê daar is ’n algemene tekort aan mediese personeel by die hospitaal se noodeenheid (ongevalle) en hulle moet nou na meer pasiënte omsien as tevore.
“Alle pasiënte se eerste aanmeldingsplek moet altyd die primêre gesondheidsorgkliniek wees, behalwe wanneer dit ’n noodgeval is.
“Net mediese of chirurgiese noodgevalle is veronderstel om by ’n hospitaal behandel te word.”
Hy sê die hospitaal volg ’n triage-stelsel om die noodgevalpasiënte van die nie-noodgevalpasiënte te skei.
Triage is ’n internasionale praktyk, hoewel die meeste lande hul eie skaal het waarvolgens hulle pasiënte skei.
’n Kleurkode word aan pasiënte toegeken om aan te dui hoe dringend hulle behandel moet word.
Die kleure is soos volg:
. Groen: Wanneer alle meer ernstige gevalle behandel is.
. Geel: So gou moontlik
. Oranje: Dringend
. Rooi: Onmiddellik





