Christo Conradie verduidelik South Africa Wine se misnoeë in die minister van finansies se verhoging in aksyns.


Die aksynsverhoging wat deur die nasionale tesourie ingestel is, sal baie wynondernemings nog ’n knou toedien en die Suid-Afrikaanse wynbedryf se ekonomiese herstel verder belemmer.

Enoch Gondwana, die minister van finansies, het tydens die nasionale begrotingsrede verlede week ’n aksynsverhoging van 7,17% op wyn, 7,17% op vonkelwyn en 6,67% op brandewyn aangekondig.

“Ten spyte van uitgebreide dialoog en voorleggings van South Africa Wine, het ons pleidooi om die verhoging van aksynsbelasting op wyn en brandewyn inflasionêr te hou, op dowe ore geval,” sê Christo Conradie, belanghebbende­betrokkenheid, marktoegang en beleidsbestuurder by South Africa Wine.

“Die noodsaaklike rol wat die wyn- en brandewynbedryf in die groter ekonomie speel en die beduidende bydraes tot werkskepping oor die hele wynwaardeketting –, veral in landelike gemeenskappe sowel as die volgehoue druk vir hierdie bedryf – om volhoubaar te bly, is geïgnoreer.

“In ’n tyd waarin groei en herstel desperaat nodig is, vererger verskeie krisisse – insluitend die energiekrisis, ontwrigtings by die Kaapse hawe en stygings in insetkoste, om maar ’n paar te noem – die finansiële volhoubaarheid van ons bedryf.”

Suid-Afrika het ’n groot en groeiende mark vir onwettige alkohol, wat verbruikers toegang bied tot meer bekostigbare alternatiewe, met moontlik meer gepaardgaande skade.

Historiese data toon dat wettige alkoholverbruik in Suid-Afrika relatief plat is, ten spyte van voortgesette aksynsverhogings hoër as inflasie, terwyl die onwettige alkoholhandel groei.

Aksynskoerse het sedert 2010 meer as verdubbel, maar Suid-Afrika se aangetekende alkoholverbruik per capita het relatief staties gebly (WGO).

Die groot bekommernis is egter dat die onwettige aandeel van daardie mark in minder as ’n dekade amper verdubbel het.

“Wanneer pryse vinniger as inkomste styg, kan mense minder goedere en dienste bekostig. Goedkoper goedere, insluitend onwettige en swartmarkprodukte, word meer aanloklik,” sê Conradie.

“Sonder verbeterde wetstoepassing sal meer regulasies (insluitend hoër aksynsbelasting) in die wettige alkoholmark waarskynlik geen invloed hê nie. Die inagneming van die plaaslike konteks is deurslaggewend in die ontwerp van beleidsregulasies.

“Ons is uiters teleurgesteld dat die regering nie gehoor gegee het aan ons bedryf se pleidooi nie.

“South Africa Wine was die afgelope paar maande in gesprek met die nasionale tesourie, waar ons die posisie van ons bedryf beklemtoon het en versoek het dat inflasionêre aksynsbelasting ingestel word.

“Dit, tesame met ander ingrypings soos ooreengekom in die meesterplan vir landbou en landbouverwerkings (AAMP), kan die wyn- en brandewynbedryf in staat stel om ons belangrike rol in die ekonomie van die land en ons samelewing te vervul,” sê Conradie.



.
Uitgereik deur South Africa Wine

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article