Die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, die Kaap die Goeie Hoop-landbougenootskap, wat as Agri-Expo handel dryf, het aan die einde van 2022 noodsaaklike herstrukturering ondergaan.
Beduidende verliese as gevolg van projekte wat die laaste paar jaar geen wins opgelewer het nie, asook die swak ekonomiese klimaat, het tot hierdie drastiese, dog noodsaaklike besluit gelei.
Volgens Pieter van Wyk, die president van Agri-Expo, was die probleme wat die laaste paar jaar ontstaan het, struktureel van aard. “Ons het ongelukkig te veel projekte wat nie winsgewend is nie en daarmee saam ’n personeelkorps, wat geweldig kundig is, maar wat Agri-Expo nie volhoubaar kan bekostig nie. Ons moes ons uitgawes in pas met ons inkomste aanpas.”
Ná raadpleging met kundiges en gesprekke met personeel, het die raad derhalwe besluit dat nie-winsgewende projekte afgeskaal moes word en nie meer personeel as wat Agri-Expo kon bekostig, in diens gehou word nie.
Gevolglik het ’n proses in terme van Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge begin. Hierdie proses was dinamies en interaktief en het bestaan uit verskeie werksessies met kundiges en personeel.
Die proses is nou afgehandel, en personeel wat geraak is, het reeds regverdige en bogemiddelde skeidingspakkette ontvang. “As ons nie hierdie harde besluite geneem het om nou projekte en personeel prys te gee nie, sou hierdie landbougenootskap, wat 192 jaar oud is, oor ’n bietjie meer as 10 jaar sy deure moes sluit. Ons bedank graag die personeel wat ons diens verlaat het vir hul toewyding en kundige diens aan Agri-Expo en die breë landboubedryf”, het Van Wyk gesê.
In die lig hiervan moes sekere van die huidige projekte ook gestaak word. Die raad het egter die volgende projekte geprioritiseer – die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap, die SA Jongwynskou, ondersteuning aan landbouskole (landbou-jeugontwikkeling) en sy ledeskoue (landbouskoue).
Nuwe era
Breyton Milford is ná die herstuktureringsproses as hoofbestuurder van Agri-Expo aangestel. Milford was voorheen die bedryfsbestuurder by Agri-Expo en ken die organisasie goed. Die raad is opgewonde oor hierdie aanstelling en glo dit gaan bydra tot die nuwe tydvak wat Agri-Expo betree.
Volgens Milford is dit ’n reusevoorreg om hierdie genootskap en sy lede te dien. “ Ons gaan ’n benadering van ‘terugkeer na fundamentele beginsels’ moet volg. Ten einde volhoubaarheid te verseker, sal nuwe projekte sterk bekostigbaarheids- en relevansietoetse moet slaag, sonder om landboubevordering te benadeel. Ek sien uit om Agri-Expo te herfokus en vaartbelyn te maak.”
Die raad gee die versekering dat Agri-Expo sal voortgaan om sy visie volhoubaar na te streef deur te fokus op uitstallings en ander openbare verhoudingsinisiatiewe in belang van sy lede, landbou, die regering en die publiek.





