Die Afrikaanse Taalmuseum- en monument (ATM) en die Historium Trust bied ’n Arabies-Afrikaanse werksessie én kompetisie op 16 Julie ter ere van Arabies-Afrikaans aan.
Dit volg op die hoogs suksesvolle kompetisie in 2020 toe meer as 40 nuwe Arabies-Afrikaanse geskrifte vanuit Suid-Afrika, Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang is en die drie wenners met R10 000 beloon is.
As deel van die ATM se uitreik na die gemeenskap sal die instelling boonop ’n paar deelnemers uit die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit borg om die werksessie gratis by te woon.
Die aanbieder (en beoordelaar van die vorige kompetisie) is dr. Shamiega Chaudhari, ’n dosent in die fakulteit opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie waar sy Afrikaans as hoofvak doseer. Sy is nie net ’n kenner van Afrikaans en Arabies, en liefhebber van Jawies nie, maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Haar tweetalige werksessie sal ’n inleiding tot die geskiedenis van Arabies-Afrikaans bied, opleiding in die Arabiese skryfstelsel asook voorbeelde van moderne tekste en hoe om spesifieke Afrikaanse klanke in Arabies weer te gee. Daarna sal deelnemers gehelp word om hul eie teks in Arabies-Afrikaans te skryf.
Arabies-Afrikaans, oftewel Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte, soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte, het behoue gebly, en tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is deur kundiges ontdek en geïdentifiseer.
Die werksessie is Saterdag 16 Julie van 09:00 tot 13:00 in die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, en kos slegs R250 per persoon. Die inskrywing sluit ook ’n kort besoek aan die Taalmuseum se Arabies-Afrikaanse uitstalling en Kaaps-Maleise verversings in. Om in te skryf, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za teen 13 Julie. Inwoners van die plaaslike distriksmunisipaliteit kan ook versoeke aan hom rig oor borgskappe.




