Inwoners van Noorder-Paarl is in rep en roer oor die afkap van bome in dié gebied, maar die werk vorm deel van ’n jare lange projek om nie net indringerbome uit te roei nie, maar ook omdat ernstige misdrywe in die beboste gebiede afspeel.
Volgens Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het die munisipaliteit reeds verskeie indringerbloekombome langs die Bergrivier naby Skoolstraat- en Langstraat-brug afgekap nadat die munisipaliteit verskeie klagtes van die publiek ontvang het oor aanvalle in die omliggende bos, vure en mense wat onwettig daar woon.
Volgens Esau word indringerbome al sedert 2015 langs die Bergrivier uitgekap – deur verskeie grondeienaars, vervaardigingsmaatskappye langs die rivier, plaaslike owerhede, die departemente van landbou, visserye en bosbou, omgewingsake en watersake asook die Wes-Kaapse regering se groen-ekonomieprogram.
“Die afsny van bloekom-, black wattle– en port jackson-bome is deel van ’n jare lange indringerbome-beheerprogram. Die verwydering van uitheemse plantegroei is uitdagend genoeg, maar dit is ewe belangrik om hergroei deur deurlopende instandhouding te voorkom.
“Indringerbome soos bluegums (bloekombome) lei byvoorbeeld daartoe dat waardevolle inheemse plante en vleilande verdwyn.
Die indringing, wat plant- en dierebiodiversiteit in die oewergebiede ernstig beperk, vernou die breedte van die rivier, wat aansienlike oorstromings ná swaar reën tot gevolg het. Een bloekomboom kan tot 200 liter water per dag opneem,” het Esau verduidelik.
Hy sê verder die verwydering van uitheemse plantegroei hou groot bykomende voordele in.
So byvoorbeeld het die hout self waarde in verskillende vorme: private kontrakteurs voer die bome as hout en houtskyfies uit en dit word ook in vuurmaakhout vir die plaaslike mark omgeskep.
Die afkap van indringerbome in die spesifieke gebied langs die Bergrivier is in fases gedoen – tussen Brug- en Skoolstrate sedert 2021 tot nou.
“Die projek het begin met die verwydering van jonger bome en gras. Later is gespesialiseerde kontrakteurs ingebring om die groter bome af te sny en te verwyder.”
Volgens Esau sal opvolgwerk in die gebied deurlopend en jaarliks langs die Bergrivier gedoen word.
“Verder gaan indringerbeheer jaarliks voort teen die hange van Paarlberg deur interne spanne, asook Wynland- en Cape Agency for Sustainable Integrated Development in Rural Areas- en Landcare-kontrakteurs.
“Verskeie ontbossingsprojekte vind ook langs die Bergrivier plaas en deurlopende opvolgwerk word op baie dele van die rivieroewer gedoen.”




