Die Paarl Post-span neem vandeesweek afskeid van een van sy redaksielede, die toegewyde joernalis Rasaad Adams.

Adams het in September 2023 by die span aangesluit en het sedertdien sy merk gemaak, nie net by die koerant nie maar ook in die Drakenstein-gemeenskap waar hy as ‘n betroubare joernalis be- skou is wat almal met wie hy in kontak gekom het se stories in beide teks en deur sy kameralens met integriteit vertel het. In die redaksionele span sal sy raakvat-houding, insae en bydraes gemis word.

Adams sluit as senior verslaggewer aan by Die Papier, ‘n nuwe weeklikse Afrikaanse nasionale koerant, wat ook uitgegee word deur Novus Media, met die eerste uitgawe wat op 6 Maart verskyn.

Adams sê dit was vir ’n absolute eer om die afgelope twee en ’n half jaar die mense van Drakenstein se stories te vertel.

“Ek wil elkeen hartlik bedank wat hierdie ‘inkommer’ met liefde en ope arms ontvang het. Hierdie vallei en sy mense het sulke mooi stories en my wense is regtig dat ek – selfs in my nuwe hoofstuk – op die een of ander manier by Drakenstein se mense betrokke kan wees.

“Dankie ook aan die wonderlike span by Paarl Post vir julle liefde en ondersteuning. Julle het dit aangenaam gemaak om elke week ’n produk bymekaar te slaan waarop ons kan trots wees en wat ons weet ingeligte inwoners gaan kweek.”

Die Paarl Post-span wens hom alles van die beste toe vir hierdie nuwe opwindende reis wat voorlê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article