Die Dennegeur Community Band is van links Eduard Hildebrand, Mario Arnolds op saksefoon, Jacque Moses agter die dromme, Christie Davids en Kiewiet Strydom.

Peridot Communications

Vyf plaaslike musikante van die Dennegeur gemeenskap maak vandeesweek hulle amptelike buiging as die Dennegeur Community Band by die Afri-Frans mark by Simondium’s Country Lodge. Die orkes wat al die afgelope vyf jaar saamspeel, sal vanaf Vrydag 15 Julie, tot Sondag 17 Julie, besoekers met hulle lekker-luister deuntjies vermaak.
Volgens orkesleier Eduard Hildebrand sal hierdie vertonings hul eerste groot publieke deurslag wees, aangesien hulle gewoonlik slegs by gemeenskapsaktiwiteite optree. Hildebrand is ’n gemeenskapsontwikkelingsbeampte, wat in die Dennegeur gemeenskap waar werkers van omliggende plase woon, betrokke is. Hildebrand se belangstelling in musiek strek terug vandat hy as 7-jarige begin kitaar speel het.
Die vyfmanskap konsentreer op baldansmusiek, maar dek ook ’n verskeidenheid genres van romantiese ballades, gospel en lekker ritmiese nommers soos een van Hildebrand se gunstelinge The Girl from Ipanema.
Die Afri-Frans mark maak deel uit van die naweek se Bastille-vieringe en is ’n heerlike mengsel van tradisionele Franse tradisies en produkte met ’n eg-Afrikaanse inslag. Besoekers kan hulle verlustig in die handgemaakte en unieke produkte van meer as vyftig uitstallers, heerlike versnaperinge sowel as ’n glasie wyn van Neil Joubert-wyne, terwyl hulle na die strelende musiek van die Dennegeur-orkes luister.
Die eerste 120 besoekers ontvang daagliks ’n pragtige lap- en kantroos, wat deel vorm van ’n inkomste-projek vir pensioenarisse geloods deur een van die uitstallers Chocolate Lace.
Die mark maak daagliks om 09:30 oop tot 16:00 op Vrydag en Saterdag en 15:00 Sondagmiddag. Toegang is R30 per volwassene, terwyl kinders onder 18 gratis ingang geniet. Ruim parkering en sekuriteit is beskikbaar.
Vir meer inligting, skakel 021 874 1046.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article