Die Boland Kavaliers beleef tans gemengde welslae in die Curriebeker Premierafdeling, en hul kanse op ’n uitspeelwedstryd is reeds verby. Twee groot Kavaliersgeeste hang hierdie naweek ook hul stewels op.

Die eerste om te gaan is die slot, Hanno Kitshoff (32) van Robertson, wat oor die jare altesaam 61 wedstryde vir die Kavaliers gespeel het. Dan is daar die oud-Paarl Gimnasiumbuksie met die groot hart en giftige aangee, Marnus Hugo (30), wat sy uittrede ook aankondig het.

Hugo het al sy vaardighede by ’n paar unies geslyp en het sedert 2006, 76 keer vir die Kavaliers uitgedraf. Verder het hy ook vir die Haaie op juniorvlak en Griekwas en Cheetahs gespeel.

Hy is getroud met Estine en hulle het ’n een jaar oue seun, Marno.

Rugby is al van kinderdae af in sy bloed erken hy.

“Van my vroegste rugbyherinneringe is hoe ek as ’n o.13A-speler interskole teen Klein Boishaai in 1998 gewen het.

“Ek was ook deel van die o.13 WP-Cravenweekspan wat daardie jaar in Kimberley gespeel het.”

Die afgelope seisoen was uitdagend vir die Kavaliers. Die span het in die voorseisoen byna al die groot unies geklop, maar het weens beserings en die terugkeer van Super Rugby-spelers, gesukkel teen die groter unies.

“Hierdie was ’n spesiale seisoen saam met ’n spesiale groep spelers. Ek dink die hardste wedstryd was teen die Leeus in Johannesburg. Die tempo was geweldig vinnig en die dun lug het ons laat sukkel.”

Hugo erken dat hy, weens sy lengte, nog altyd ’n skrumskakel was.

“Ek verkies dit om ’n skrumskakel te wees en het oor die jare goeie losskakels aan my sy gehad. Manne soos Francois Brummer en Rian Viljoen het altyd goed gedoen. Die afgelope twee seisoene het ek ’n spesiale verhouding met Adrian Carelse ook opgebou.”

Natuurlik is daar rugbyspelers waarna hy opkyk ook.

“My gunsteling twee spelers is sonder twyfel Jean de Villiers en Schalk Burger. Ek het saam met hulle grootgeword en het ongelooflike respek vir hulle.”

Afrigting is vir Hugo uiters belangrik.

“Ek rig in hierdie stadium rugby by Paarl Gimnasium af en dis vir my lekker om die seuns te probeer motiveer om later rugby hul beroep te maak.”

Die lewe ná rugby lyk ook na ’n besige een vir Marnus.

“Ek het nie so baie stokperdjies nie, maar as ek kan, speel ek graag gholf. Ek gaan ook nou saam met my pa en broer werk in die groothandel van brandstof.”

* The Boland Cavaliers bid fairwell to two of their stalwarts on Friday. Hanno Kitshoff and local ex-Gimnasium player Marnus Hugo will be ending their careers on Friday night at Newlands.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article