Die Hoërskool Paarl Gimnasium se studenteraad het onlangs 150 hartjies gesteel toe hulle ’n Kerspartytjie vir 150 dankbare kinders gehou het.
Die kinders van Butterfly House in Paarl-Oos is met die groot skoolbus aangery vanaf Butterfly House na die atletiekbaan by Gimnasium.
Leerders en personeellede het deur boeresport-speletjies te doen, raakrugby te speel, danspassies te oefen, gesiggies te verf, asook waterglywurms en springkastele te huur, gesorg vir ure se pret en plesier.
“Ons het hulle met hope eetgoed bederf soos worsbroodjies, sappies, roomys, kolwyntjies, vars vrugte en vele meer,” vertel Riette Marais, bemarker van Hoërskool Paarl Gimnasium.
In die kinders se geskenkpakkies, wat elkeen ontvang het, was inkleurboeke met kryte, haarknippies, albasters en toiletware.
Marais vertel: “Die blydskap en waardering op elke liewe gesiggie maak hierdie projek vir ons meer as die moeite werd.”
Die personeel van Hoërskool Paarl Gimnasium wil almal bedank, veral vir elke Gimmie-ouer, -leerder, -onder-wyser en vriend wat gehelp het om hierdie wonderlike dag moontlik te maak. Spesiale dank aan juffrouens Sarah van der Merwe en Elzanne Bonthuys vir hul harde werk.




