Dit was ’n blye dag vir die leerders van ’n landelike skool toe hulle tekkies ontvang het.
Hugenote Laerskool het onlangs altesaam 300 pare tekkies aan Windmeul Primêre Skool se leerders geskenk.
Volgens Cicelia Samuels, onderwyser en netbalafrigter by Windmeul Primêr, het Erika le Roux en haar dogter Amoré Gerber (onderwyser by Hugenote Laerskool) hul harte oopgemaak om deel te vorm van die leerders se netbalafrigting.
Samuels vertel: “Met die laaste netbal ligawedstryd by Windmeul Primêr se netbalbane, het die twee dames gesien hoe netjies ons skool is. Hulle kon ook toe sien dat ons talentvolle leerders het, maar ook leerders wat minderbevoorreg is. Hulle het toe aanskou hoe ywerig die leerders by ons skool is om aan sport deel te neem, ten spyte van hulle uitdagings.”
Le Roux en Gerber het toe besluit om vrywillige afrigting aan die leerders na-skool te bied.
Maar dit het le Roux en Gerber se harte gebreek om te sien hoe die leerders kaalvoet op die warm teerbaan moes speel.
“By die verskeie wedstryde moes die leerders hul hempies uittrek, sodat ’n volgende span dit kan gebruik om hul wedstryd daarin te kan speel,” vertel Le Roux.
Le Roux het toe aan Michelle Behne, nog ’n onderwyser by Hugenote Laerskool van die omstandighede rondom die oefenklere van Windmeul verduidelik.
Dit is toe dat Behne die inisiatief neem en die voorstel aan haar skoolhoof, Henry Schempers, rig om ’n tekkies insameling dag te hou.
“My hart was baie seer om te sien hoe kinders sonder skoene netbal moes speel, terwyl ander bevoorreg is,” vertel le Roux hartseer.
“Ons is baie dankbaar vir Erika en Amoré asook vir Hugenote Laerskool en almal wat hul harte vir ons kinders oopgemaak het,” sê ’n trotse Samuels.




