Wellington se boekliefhebbers gaan op Donderdag 3 Augustus met ’n splinternuwe Leeskring vir almal wat graag lees en op die hoogte van die jongste boeke wat beskikbaar is, wil bly.
Die dorp se vorige Leeskring het ná baie jare weens ’n verskeidenheid van redes stil-stil van die toneel verdwyn: een van die vorige Leesking se getrouste ondersteuners, Winnie Rust het gesterf, Elsabe du Toit, die dorp se vorige bibliotekaresse wat ook ’n belangrike rol in die vorige Leeskring gespeel het, het as hoof van die biblioteek afgetree en Arina Botes, wat lank voorsitter van die Leeskring was, het saam met haar gesin na Worcester verhuis.
Ester Kotze, wat die boekwinkel in die Breytenbach-sentrum op Wellington bestuur, het die afgelope paar maande saam met Elsabé du Toit planne begin beraam om die dorp se eens gewilde Leeskring weer te laat herleef.
Hulle planne het skielik vorm begin aanneem toe die bekende skrywer van spanningsverhale, Rudie van Rensburg, ingewillig het om op Wellington oor sy nuwe boek, Kamikazi, te kom gesels. Tientalle boekliefhebbers het reeds laat weet dat hulle Van Rensburg se praatjie wil bywoon en daar is besluit dat die byeenkoms ook die plek moet wees waar Wellington se nuwe Leeskring gestig moet word. In die toekoms sal daar dan voortaan elke maand byeengekom word om weer, soos in die verlede, nuwe boeke te bespreek.
Rudie van Rensburg se praatjie begin om 19:00 op Donderdagaand 3 Augustus in die Bôrdienghuis, die teaterkafee van die Breytenbach-sentrum. Die koste beloop R30 per persoon en dit sluit ’n gratis glas wyn in. Diegene wat die opwindende aand saam met ander boekliefhebbers wil bywoon, kan hul plekke by Ester Kotze van die Boekwinkel by die Breytenbach-sentrum bespreek. Haar nommer is 021 873 7376.



