Hugenote Laerskool was vanjaar die wenners in die senior informele afdeling van die Sing in Harmonie-koorkompetisie.

Leana Engelbrecht, die koor se dirigent, sê “die hele Wellington” het op hul tuiskoms gewag.

Sy rig al sedert 1981 kore af en beskou dié oorwinning as ’n hoogtepunt.

Al twee die kore van Hugenote is in 2017 ook as wenners van die Wes-Kaap aangewys – die junior sowel as die senior koor.

Die eindronde het op twee verskillende aande plaasgevind. “Die junior koor is die eerste aand as wenner aangekondig en die volgende aand is ons verras toe die senior koor ook met die louere wegstap,” spog Engelbrecht.

Dit het daartoe gelei dat al twee die kore na die nasionale kompetisie deurgedring het, waar al die wenners van die verskillende streke teen mekaar sou meeding.

’n Koorkomitee is onmiddellik saamgestel, wat bestaan het uit ouers, die adjunkhoof, die begeleidster en Engelbrecht.

Ná vele vergaderings rakende logistieke uitdagings het almal besluit om slegs die senior koor na Centurion vir die kompetisie te stuur.

Busse is geborg deur die maatskappy Eldo, wat deur Anthonie Bougas van Sing en Harmonie gereël is.

Die groep is met drie splinternuwe luuksebusse Pretoria toe. Sewe onderwysers en ’n groot aantal ouers het die groep op die toer vergesel.

“Dit het ons taak baie vergemaklik, aangesien ouers na hul kinders kon omsien,” sê Engelbrecht.

Die groep het ná 18 uur op die bus uiteindelik by die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria aangekom.

Daar het die Hugenote-koor een nag kosteloos oorgeslaap.

Sondagoggend 21 Oktober het die busse met koorlede en onderwysers 08:30 na Southdowns College in Centurion vertrek waar dit eers Hugenote se beurt vir ’n klanktoets was.

“Daarna is my grimering en hare deur professionele mense gedoen. Dit was ’n groot bederf,” sê Engelbrecht.

Die kinders kon daarna ontspan tot die kleedrepetisie wat 12:00 begin het. Die kinders was verstom oor al die ligte en kameras.

Elke koor het slegs vyf minute per optrede gehad en moes streng daarby hou. “Ons het twee liedere gesing, waarvan die eerste die geestelike ‘Walls come tumbalin’ down’ was. Dit is ’n energieke lied wat verskeie uitdagings aan die koor bied. Die tweede lied was die immergewilde ‘Jantjie’ van Anton Goosen. Dit is ’n nostalgiese lied wat elke keer die gehoor bekoor. Liedkeuses is baie belangrik; dit het ’n groot impak op die sukses van die aanbieding.”

Die kompetisie het stiptelik 17:00 begin. “Ons koor was heel eerste aan die beurt, wat nogal ’n groot uitdaging was.”

Die span van Sing in Harmonie het regtig uit sy pad gegaan om die koor tegemoet te kom en met vervoer en verblyf te help.

Die kompetisie het in goeie gees en ’n ontspanne atmosfeer plaasgevind.

Aan die einde van die program moes al die koorleiers op die verhoog verskyn vir die aankondiging van die wenkore in die drie afdelings, beste junior koor, beste senior koor in die informele afdeling en die beste senior koor in die formele afdeling. Die liedkeuses bepaal in watter afdeling die senior kore deelneem. “Groot was ons verbasing toe ons as wenners van die informele afdeling aangewys is,” sê ’n oorstelpte Engelbrecht.

“Dit was ’n ervaring wat elke koorlid nooit sal vergeet nie.”

Elke wenkoor het ’n indrukwekkende trofee van die FAK ontvang, waarop hulle baie trots is.

Maandagoggend is ’n onderhoud met die koorleiers van die wenkore op die televisieprogram Morning Live gevoer.

Sing in Harmonie het ’n formidabele span, onder leiding van Anthonie Bougas.

Laerskool Courtrai het ook aan die kompetisie se reg­streek­se uitsending deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article