Die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse ope dag beloof om weer eens die ideale geleentheid vir gr. 12-leerders te wees om inligting oor studiegeleenthede, finansiële hulp, huisvesting en die Matie-studentelewe te bekom.

Die 2021-ope dag, wat vanjaar die eerste keer aanlyn aangebied word, word Saterdag 17 April van 09:00 tot 14:00 gehou.

“Die opedagwebtuiste bestaan uit virtuele stalletjies waar leerders en ouers inligtingsessies kan bywoon, brosjures en dokumente kan aflaai en met ’n raadgewer gesels,” sê Michelle Swart, bemarkings- en mediabeampte van die US se sentrum vir studentewerwing en raad oor loopbane.

Die dag bied belangrike inligting oor hoe om aansoek te doen, finansieringsmoontlikhede, raad oor loopbane en studentesteun (insluitend studente met spesiale leerbehoeftes).

“Moenie bekommerd wees indien jy nie die dag kan bywoon nie. Die webtuiste met al die uitstallings en inligtingsessies sal tot 31 Julie steeds beskikbaar wees,” voeg Swart by. . Leerders word vriendelik versoek om vooraf vir die ope dag by www.sun.ac.za te registreer ten einde belangrike en tersaaklike inligting te kan ontvang.. Skakel met Michelle Swart by 021 808 4709 of by michelleswart@sun.ac.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article