Paul Roos Gimnasium het ’n jaarlikse filmkompetisie, Filmit, geïnisieer vir hoërskoolleerders in Suid-Afrika en Namibië in samewerking met Atterbury en WeBuyCars.
Die Filmit-kompetisie is die geesteskind van die onderwysers Luize Kroukamp (hoof van kultuur) en Jan-Hendrik Opperman (hoof van kreatiewe kunste en drama) by Paul Roos Gimnasium.
Die idee vir die kompetisie het voortgespruit uit die invloed wat Covid-19 op die kulturele landskap van skole in 2020 en 2021 gehad het. Met kultuurprogramme, toneelfeeste en kompetisies wat drasties deur die pandemie beïnvloed is, het dié twee onderwysers besluit om aan te pas by die tye en iets te begin wat nuwe alternatiewe geleenthede vir leerders skep – veral vir diegene met ’n belangstelling in die televisie- en filmbedryf wat alewig aan die groei is – in Suid-Afrika asook in die res van Afrika.
Hoërskoolleerders van alle skole oor die land heen en in Namibië word genooi om ’n tweeminuut-aanbieding op kamera in te dien waarin hul fliekkonsep verduidelik word. Die beste 20 konsepte sal deur ’n paneel beoordelaars wat aan die bedryf verwant is, vir deelname gekies word.
Die 20 deelnemende skole sal daarna die geleentheid kry om aanlyn meesterklasse by te woon wat deur sleutelfigure in die fliekbedryf aangebied sal word.
Alle video-aanbiedinge moet teen middernag op 14 Junie ingedien word. Goedgekeurde konsepte sal op 21 Junie aangekondig word en aanlyn meesterklasse begin op 28 Junie.
Die voltooide kortflieks moet teen 11 Oktober ingedien word in samehang met ’n filmplakkaatontwerp.
Die kompetisie behels drie afdelings, wat beste fliek en beste regisseur insluit. Elke afdelingswenner sal ’n geld- en opvoedkundige prys wen.
Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan Jan-Hendrik Opperman by filmit@paulroos.co.za, Luna Paige by media@paulroos.co.za of Karien winter by kwinter@paulroos.co.za.




