Die Rachel’s Angels-mentorskapprogram voltooi nou die kringloop met ’n dokumentêre program wat oor die volgende paar maande voltooi sal word.

In hierdie mentorskapprogram, wat gesamentlik deur Media24 en die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is, het studente met leerders van Wes-Kaapse skole saamgewerk en mentorskap aan hulle verskaf.

Die program reik nou uit na sy alumni – mentors en die leerders wat touwys gemaak is – om hul suksesverhale te vertel en deel te neem aan hierdie projek wat die belangrikheid en waarde van mentorskap beklemtoon. Die dokumentêr sal kyk na waar hulle nou is, hoe hulle by die program baat gevind het en hoe die vaardighede en lesse wat hulle daar geleer het, hulle vir universiteit en die lewe ná skool voorberei het.

Prof. Rachel Jafta, stigter van die program, sê dit is belangrik om die invloed van sulke projekte in die kollig te plaas. “Ons hoor altyd van die wonderlike programme en inisiatiewe wanneer dit begin, maar wat was die program se uitwerking later? Het dit lewens verander, en indien wel, hoe?”

Leerders en studente wat voorheen betrokke was, het reeds begin om hul stories te deel.

Alle alumni word aangemoedig om ook betrokke te raak. Maak gerus kontak deur middel van Rachel’s Angels se Facebook-blad (facebook.com/rachelsangels).

Vir meer inligting kontak Edmund Beukes per e-pos by edmund@charcoalconsultants .co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article