Die land is Sondag vir die eerste keer sedert 1 Mei 2020 na vlak 4 van die nasionale staat van inperking
geskuif weens die derde vlaag van die Covid-19-pandemie.
Die vlak 4-regulasies wat van vandag af (Maandag 28 Junie) van krag is nadat
pres. Cyril Ramaphosa dit Sondagaand aangekondig het, en beklemtoon het die teenwoordigheid van die
Delta-variant is rede tot groot kommer.
Vlak 4 sal tot minstens Sondag 11 Julie geld.
Die nuwe vlak 4 is wel minder drasties as die een ’n jaar gelede. Provinsiale grense bly oop (behalwe Gauteng
wat tans die brandpunt is).
Die 20 landsgrense wat op vlak 3 oop was, bly ook oop. Jy kan wegneemetes gaan
afhaal, al mag jy nie by ’n restaurant gaan eet nie.
Daar is dié slag geen beperkings op inkopies nie en jy mag ook sigarette koop.
Aktiwiteite: Alle saamtrekke word verbied. Dit sluit godsdienstige, politieke, kulturele en sosiale saamtrekke in.
Mense mag slegs in groepe bymekaar kom vir begrafnisse en verassings (nie meer as 50 mense nie), by die
werk (as jy nie van die huis af kan werk nie) en in winkels – streng onderhewig aan reëls en regulasies soos
in die Staatskoerant uiteengesit.
• Nagwake en saamtrekke ná ’n begrafnis word verbied.
• Die verkoop van drank vir gebruik op persele of by die huis word verbied.
• Niemand mag vir die volgende twee weke uit sy woning gesit word nie.
• Skole en hoëronderrig-instellings staak op Woensdag 30 Junie alle kontakklasse.
Dié plekke is gesluit
Ingevolge die regulasies is die volgende plekke vir die volgende twee weke gesluit:
• Gimnasiums
• Flieks, teaters, museums en biblioteke
• Restaurante, behalwe vir wegneemetes
• Vlooimarkte
• Basaars
• Nagklubs
• Casino’s
• Sjebiens
• Konferensiegeriewe
• Veilings
Dié plekke bly oop
• Hotelle en lodges (50%-kapasiteit)
• Kleuterskole
• Strande en parke
• Toegang tot ouetehuise en sorgsentrums word beperk.
Gauteng se grense gesluit
• Interprovinsiale reise na en vanuit Gauteng word verbied, behalwe:
• Inwoners word toegelaat om na Gauteng terug te keer, en besoekers mag huis toe gaan.
• Vir mense wat weens werksverpligtinge moet reis, die vervoer van goedere, of mense wat onderweg is na
’n ander bestemming.
• Mense wat toestemming het om ’n begrafnis by te woon.
• Mense wat verhuis.
• As jy ’n familielid moet versorg.
• Leerlinge of studente wat daar studeer.
Aandklokreël:
Die aandklokreël is van 21:00 tot 04:00.
Besighede wat nog oop is, moet teen 20:00 sluit sodat werkers tyd het om by die huis te kom.
• Luidens die jongste amptelike syfers wat Sondagaand uitgereik is, is 15 036 nuwe gevalle en 122 sterftes in
die land aangemeld. Daar is tans 158 998 aktiewe gevalle in die land.




