Sekere nie-noodsaaklike mediese dienste word te midde van die derde vlaag van die Covid-19-pandemie afgeskaal in die Wes-Kaap, waar die infeksies tans skerp styg.
Teen Woensdag was daar 24 009 aktiewe Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap, waarvan 14 409 in die Kaapstad-metropool is.Dit sluit 1 541 nuwe gevalle in wat die afgelope 24 uur aangemeld is. Naas Kaapstad kom die meeste aktiewe gevalle in Drakenstein (1 548), George (1 515) en Mosselbaai (1 191) voor.
Die provinsiale gesondheidsdepartement het Woensdag gesê hy moet verantwoordelik optree deur die kontak met pasiënte in sy geriewe te verminder.Afsprake en nie-noodsaaklike operasies sal uitgestel word en hospitaalpasiënte wat stabiel is, word ontslaanom tuis of in ander geriewe behandel te word.Die departement doen ook ’n beroep op mense om slegs in ’n noodgeval na die ongevalle-eenheid te gaan en eerder by hul naaste kliniek behandeling te ontvang.
Nooddienste
Die provinsiale departement sê in ’n verklaring die nooddienste wat voortgaan, is chirurgie, verloskunde, behandeling vir beenbreuke, beperkte oogsorg en -chirurgie en verwante mediese dienste soos verpleging, tandartse en aptekers in noodgevalle.By klinieke vir primêre sorg sal meer medikasie uitgereik word, terwyl uitreikbesoeke en afsprake wat nie dringend is nie, ook uitgestel word.Die dienste van tandartse en oogkundiges sal tot noodgevalle beperk word, luidens die verklaring.
Verder sal sekere dienste voortgaan met streng regulasies wat sal geld, onder meer vroedvrou-eenhede en die beperkte aflewering van medikasie aan chroniese pasiënte in ’n bestendige toestand, sowel as noodsaaklike dienste soos chroniese sorg, inentings, sifting en behandeling van TB en MIV, gesinsbeplanning en voor- en nageboortesorg.
Die departement sê hy het begrip daarvoor dat dié besluit ongerief kan veroorsaak, maar beklemtoon dit is nodig om seker te maak dat daar voldoende kapasiteit vir noodgevalle is.




