Inskrywings word ingewag vir Kunstekaap en die Suidoosterfees se dramafees vir hoërskole, wat in Oktober vanjaar in Kaapstad aangebied word.

Skole kan tot 20 Augustus produksies vir die Hoërskool-dramafees inskryf.

Die ses topinskrywings sal op 8 en 9 Oktober vanjaar in die Arena by Kunstekaap vir finale beoordeling opgevoer word, waarna die beste akteurs, regisseurs en skrywers by ’n prysuitdeling vereer sal word.

Die wendrama se geselskap sal genooi word om hul produksie tydens Suidoosterfees 2022 op die planke te bring.

Om deel te neem, moet skole ’n produksie van 30 tot 60 minute voorlê wat handel oor sosiale uitdagings waarmee hedendaagse skoliere te doen kry.

’n Uittreksel van 10 minute uit die toneelstuk moet as ’n oudisievideo voorsien word, tesame met ’n opsomming en motivering vir die tema wat gekies is.

Ingevolge Covid-19-regulasies word nie meer nie as ses akteurs op die verhoog in Kunstekaap se Arena toegelaat, en inskrywings moet aan dié voorskrif voldoen.

Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfeesdireksie, sê: “Dit is vir ons opwindend om saam met Kunste­kaap aan hierdie projek deel te neem, want die Suidoosterfees het reeds ’n groot fokus op ontwikkelings­program­me. Ons sien dit as nog ’n geleentheid om jong teatermakers te help ontwik­kel.”

Die sluitingsdatum vir inskrywings, wat ’n oudisievideo van 10 minute, ’n opsomming en motivering vir die tema van die stuk insluit, is aanstaande Vrydag (20 Augustus). Skole met suksesvolle inskrywings sal teen Woensdag 25 Augustus ingelig word. . Kontak Tania Williams-Kaponda by slu@artscape.co.za vir nog inligting en inskrywingsvorms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article