Die Athletics Foundation Trust (AFT) het sy Stellenbosch-atletiekbeursprogram in samewerking met Endurocad en die Hoërskool Stellenbosch met groot vreugde en afwagting bekend gestel.

AFT het nege jaar gelede ’n unieke ontwikkelingsprogram geskep om ’n daadwerklike verskil in Suid-Afrika deur middel van opvoeding en atletiek te maak.

Die trust se ruim borgskap vir beurse aan die TuksSport Hoërskool het ongetwyfeld ’n impak op die Suid-Afrikaanse en wêreldatletiek-toneel van 2014 tot 2021 gemaak met fenomenale sukses by die onlangse o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia.

Die organisasie het oor die jare meer as 200 beurse geborg en sy voetspoor na die Wes-Kaap uitgebrei.

Die Stellenbosch-atletiekbeursprogram sal ’n uitbreiding van die nasionale atletiekbeursprogram wees. Die program begin in 2022 met die onmiddellike doel om 15 talentvolle atlete (graad 8-10 in 2022) uit onderontwikkelde gebiede te identifiseer waar min hulpbronne of geleenthede is om hul atletiese en akademiese vermoë te ontwikkel.

Hierdie jong atlete sal ’n omvattende opvoeding ontvang deur aan die Hoërskool Stellenbosch skool te gaan en deur afrigters van wêreldgehalte in Stellenbosch afgerig te word.

“Geen sportloopbaan duur vir ewig nie. Ons wil hê jong atlete moet besef nie almal gaan ’n professionele atleet word nie, daarom word onderrig ewe belangrik beskou,” sê Rose Juby, AFT se nasionale programbestuurder.

Die AFT het Endurocad aangestel om die program te bestuur, in samewerking met Hoërskool Stellenbosch, die Athletes Academy (klub) en die Stellenbosch-akademie vir sport.

Endurocad, ’n organisasie sonder winsbejag, word bestuur deur die Olimpiese silwermedaljewenner Elana van Zyl-Meyer en Janet Welham, wat die afgelope agt jaar jong atlete ontwikkel het met die fokus op hul algehele ontwikkeling, insluitend loopbaan-, persoonlike en atletiekontwikkeling.

“Ons is verheug om die vaardighede wat ons met Endurocad ontwikkel het, te gebruik om die AFT te ondersteun om hul bewonderenswaardige doelwitte te bereik om atlete van wêreldgehalte te lewer. Ons doel is om die oorvloed rou talent in ons gemeenskappe te identifiseer en te ontwikkel en hulle ondersteuning en vaardighede te bied om hul volle potensiaal te bereik,” sê Van Zyl-Meyer, direkteur vir Endurocad.

Theo Pellissier, die Hoërskool Stellenbosch se hoof, voeg by: “Ons is baie opgewonde daaroor om die eerste groep atlete by ons skool te ontvang. Die Hoërskool Stellenbosch is uniek geposisioneer vir hierdie inisiatief, aangesien dit nie net die nodige geriewe het nie, maar ook bekend is vir ’n verwelkomende kultuur en ’n persoonlike aanslag. Dit het ook ’n lang geskiedenis om leerders uit die verste uithoeke van die Wes- en Noord-Kaap en verder te lok.”

Van Zyl-Meyer sal ondersteun word deur Nolene Conrad as die atlete-bestuurder van die Stellenbosch-atletiekbeursprogram. Sy sal toesig oor die daaglikse bestuur van die program en atlete hou. Haar uitgebreide ervaring as ’n hoëprestasie-atleet en in onderrig en afrigting bied ’n ongelooflike geleentheid aan die beursatlete.

Die afrigtingspan sal van wêreldgehalte wees met die legendariese Zola Budd wat by die Endurocad-span aansluit en aan die hoof staan van die hoërskool middelafstande-afrigtingportefeulje. Budd sal ondersteun word deur ander spesialisafrigters, insluitend die paalspringspesialis JP van As.

Die program is van Januarie 2022 van krag. Atlete wat wil aansoek doen moet in graad 8-10 wees in 2022. Hulle moet ook in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Suid-Kaap of die Vrystaat woon.. Belangstellendes kan navraag per e-pos doen by nolene@endurocad.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article