Die gemeenskap van Amstelhof in Paarl-Oos is geruk ná die dood van vyf inwoners en elf ander wat in ’n motorbotsing beseer is.

Sestien mense was Sondagoggend onderweg na ’n kampeerplek in Saron toe die bakkie waarmee hulle gery het, se band vermoedelik gebars en die bestuurder van die bakkie beheer oor die voertuig verloor het, aldus ’n betroubare bron.

Volgens kaptein Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, was die voorval Sondagoggend om 07:45 op die R44 naby Saron.

Van Wyk sê met die aankoms van die Saron-polisie op die toneel was die voertuig op die grys gedeelte langs die pad en het dit in die rigting van aankomende verkeer gestaan.

“Tydens inspeksie het hulle die liggame van drie slagoffers gevind wat noodlottige beserings opgedoen het. Twee mans en ’n vrou is deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar. ’n Vierde slagoffer is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, maar het later omgekom weens die beserings wat sy opgedoen het. Nog twaalf beseerde passasiers is na ’n nabygeleë hospitaal geneem,” het Van Wyk gesê.

Volgens ’n betroubare bron het vyf mense ernstige beserings opgedoen en moes van hulle van die Paarl-hospitaal na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas word.

’n Vyfde slagoffer is egter Dinsdagmiddag dood.

Die oorledenes, onder wie Veronica Paulse en haar seun Vernon Paulse (11), Cereldine Plaatjies, Emile Arendse en Elgene van Wyk, was nie net geliefd onder hul families nie, maar ook in die breë Amstelhof-gemeenskap.

Talle inwoners het kort ná die nuus oor die tragedie byeengekom en kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die oorledenes en ook om te bid vir diegene wat steeds in die hospitaal aansterk.

Veronica se suster, Linda Pienaar, beskryf haar as ’n liefdevolle mens – “iemand wat nooit ander kwaad sou aandoen nie”. Sy sê Vernon, ’n leerder by Amstelhof Primêr, was ’n stil seun.

“Ons is almal platgeslaan; die hele gemeenskap is platgeslaan oor wat gebeur het. Ek weet hulle sou almal gaan kamp het en hulle sou vandag (Dinsdag 11 Januarie) teruggekom het huis toe,” het Pienaar gesê.

Filida Mhalo, ’n familielid, beskryf Cereldine as ’n sterk vrou. “Sy was iemand op wie ’n mens kon staatmaak; iemand wat die huis bestuur het. Sy was hardwerkend en het vir haar ma gewerk.”

Paarl Post kon ongelukkig nie Emile en Elgene se families voor druktyd in die hande kry om meer besonderhede oor hulle te kry nie. Op sosiale media skryf Emile se kollegas dat hy deur almal by die werk gemis sal word. Medelye het ook vir Elgene ingestroom.

Veronica laat nog vier kinders agter, Cereldine twee kinders en Elgene ook twee. ’n Roudiens word Sondag gehou. . Die Saron-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Enigiemand met inligting word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article