Private kontrakteurs in die vullisverwyderingsbedryf is rooi om die kiewe van hopelose frustrasie weens ’n “kieskeurige” of voorkeurbeleid wat na bewering deur die Drakenstein-munisipaliteit (DM) toegepas word.

Van dié kontrakteurs het by vorige vergaderings so ver gegaan om te sê “dit voel asof die munisipaliteit daarop uit is om teen ons te werk; kos word uit ons monde gehaal”.

Omstredenheid het onlangs weer ontstaan toe ’n e-pos van ’n DM-raadslid af aan skip-kontrakteurs die volgende gestipuleer het: “Let daarop dat geen kontrakteur toegelaat word om enige fabrieksvullis (munisipaliteit se verantwoordelikheid) te stort nie. Slegs herwinning, bourommel, tuinvullis en ‘bulk’-rommel mag deur kontrakteurs gestort word.”

Die boodskap het die ronde gedoen nadat aansoeke vir 2021-’22-permitte verlede jaar aan die private sektor oopgestel is.

Die private sektor meen egter dit skep die indruk dat fabrieksvullisverwydering deur die munisipaliteit gemonopoliseer word.

Hulle voer aan die DM beskik nie oor genoeg personeel of hulpbronne om al die fabrieksvullis in die hele Drakenstein te verwyder nie.

Dié permitte verseker wel dat kontrakteurs nie onwettig vullis van buite Drakenstein op plaaslike terreine mag stort nie en hulle moet aan spesifieke munisipale ordonnansies voldoen. Maatskappye in die private sektor het herhaal dat hulle tog vir dié soort maatreëls te vinde is.

Stephan Landsberg het as proporsionele raadslid die bekommernisse van die private sektor op ’n vergadering op 13 Desember aan die DM genoem.

Hy sê: “Lede vra ’n verduideliking oor die verskil tussen ‘bulky’ en fabrieksvullis, waarop die DM verduidelik het ‘bulky’ vullis kan enigiets behels wat te swaar is vir ’n kompakteerder of dit kan beskadig.

“Sommige fabrieksvullis kan wel in ’n kompakteerder gaan waarvan die algehele volume te groot is vir [die munisipaliteit] se kapasiteit om [dit] te verwyder.”

Hy het voorgestel meer rakende dié “grys area” moet met die munisipaliteit besin word, aangesien volume en massa aan fabrieksvullis gekoppel is.

Alan Harris, een van die vullis-moniteringskomitee se voorsitters, sê vullis van ’n plaas af kan nie as slegs bulky of fabrieksvullis geklassifiseer word nie. “Die munisipaliteit het gesê landelike gebiede soos plase is nog ’n groot uitdaging en hulle werk aan oplossings,” het Landsberg bygevoeg.

Paarl Post het navrae oor al die sogenaamde “grys areas” aan die DM gerig. Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê geen beleid het verander nie. “Dieselfde beleid van 2013, wat in die munisipaliteit se bestuursverordening vir geïntegreerde vaste afval vervat is, is steeds van toepassing. Dié beleid is reeds wyd aan private kontrakteurs gekommunikeer; geen amptenaar het die magtiging om ’n beleid te verander of [andersins] te bewoord nie.

“Kontrakteurs mag slegs verwerkte fabrieksvullis afhaal en stort. Verwerkte fabrieksvullis is vaste afval wat weens die verwerking daarvan nie met behulp van ’n vulliskompakteerder gekollekteer kan word nie, maar in groter houers gestoor en dan verwyder word.”

Voorbeelde van verwerkte fabrieksvullis is:. agterkante van gedrukte etikette (dit het ’n plastiek- of was-laag wat nie herwinbaar nie);. houtsaagsels en stukke afvalhout;. plastiek afvalstukke van kratte of enige vervaardigde produk wat die vulliskompakteerder moontlik kan beskadig; en. plastiek membraanfilters wat in die osmoseproses vir die filtrering van drinkwater gebruik word.

“Private kontrakteurs mag slegs uitskot-herwinningsmateriaal, bourommel, tuinvullis, en bulky (lywige) afval stort. Lywige afval is alle soorte vaste afval wat weens die samestelling daarvan (massa, vorm, grootte en hoeveelheid) nie maklik bymekaar gevoeg kan word en in vullishouers soos die 240-liter-wieletjieshouer, ‘skip’ of 770-liter-houer geplaas kan word nie.”

Die verskillende soorte “bulky” afval wat private kontrakteurs mag stort, is:. bourommel, sand, klip en staal;. tuinafval;. meubels en hout- en plastiekkratte;. enjinblokke;. plastiektafels en -stoele;. yskaste, stowe, matrasse, garage-afval (uitgesluit olie en ander stowwe wat gevaar inhou); en. hout en houtsaagsels.

“Herwinningsmateriaal van sakeondernemings, wat deur kontrakteurs afgehaal en vervoer word, moet nie by die stortingsterrein gestort word nie, maar eers herwin word, en daarná mag slegs die oorskot wat nie herwinbaar is nie, by die stortingsterrein gestort word,” het Esau verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article