Valiant Swart en sy vrou, Lanelle, hou aan die einde van Januarie ’n veiling om geld vir ’n mediese prosedure in te samel om haar met limfodeem te help. Foto: Edrea du Toit/Rapport


Ernstige siekte, hetsy jou eie of dié van ’n geliefde, het ’n reuse-impak op die lewe van almal betrokke. Daarvan kan die gewilde Sama-bekroonde sanger, liedjieskrywer en akteur Valiant Swart en sy vrou getuig.

Lanelle, wat ook sy agent is, het twee jaar gelede ’n kankeroperasie ondergaan. Sedertdien het komplikasies egter ingetree en limfedeem in die regterbeen, wat moontlik ook later na haar linkerbeen kan versprei, is onlangs by haar gediagnoseer.

“Lanelle is ’n ystervrou en super-ma vir ons kinders. Sy het haar hele lewe lank ’n aktiewe leefstyl geleef en nog altyd die fort gehou as ek op die pad moes wees. Limfedeem het haar alledaagse bestaan aansienlik verander,” sê die musikant, wat veral bekend is vir sy rol in die Afrikaanse drama Song vir Katryn en sy treffer “Sonvanger”.

As gevolg van haar diagnose, wat met tyd gaan vererger, is hierdie aktiewe 51-jarige ma – wat steeds studeer en gereeld stap, swem en reis – se toekomsplanne heeltemal omvergewerp.

Pyn, ongemak, strawwe behandelings en oefeninge, asook ’n streng dieet het haar nuwe normaal geword, en om ver te ry (wat noodsaaklik is vir Valiant se beroep) is nou ’n onaangename en vermoeiende ervaring.

“My vrou moet dag en nag ongemaklike, beperkende kompressie-kouse dra om te voorkom dat haar bene swel en haar toestand versleg. Sy moet ook elke oggend, sonder uitsondering, spesiale oefeninge doen om swelling, pyn en komplikasies te voorkom. Ten spyte van haar gedissiplineerde oefenprogram en dieet, ondervind sy steeds deurlopend pyn en ongerief en maak dit normale dinge soos om die motor te bestuur, uitputtend.”

Gelukkig was sy nog nooit iemand wat haar laat onderkry nie en het sy besluit om hard teen hierdie aaklige siekte terug te baklei.

Ná deeglike navorsing het hulle ontdek ’n mikro-chirurgiese prosedure is oorsee beskikbaar waardeur limfedeem behandel kan word. Net ’n handjievol instansies en chirurge spesialiseer egter hierin, maar Lanelle was gelukkig genoeg om ’n hoogaangeskrewe Amerikaanse spesialis in Cleveland, Ohio, op te spoor, wat vroeg in 2022 wil opereer.

“Limfedeem raak alle aspekte van my lewe. Buiten vir net chroniese swelling, pyn en ongemak, het dit ook ’n invloed op my immuunstelsel en kan dit tot lewensgevaarlike bakteriële infeksie lei. Die ergste vir my is die vrees dat ek my beweeglikheid kan verloor. Hierdie operasie sal my ’n kans gee om normaal te leef omdat dit ’n alternatiewe dreineringsroete vir die limf skep, wat weefselverandering help vertraag en die kanse om infeksie op te doen, verminder,” sê Lanelle.

Die probleem is egter dat die prosedure self ’n klein fortuin kos, om nie eens te praat van reis- en verblyfkoste (voor, gedurende, ná die operasie) nie.

Om geld in te samel om Lanelle te help om teen die aaklige siekte te baklei, beplan die paartjie om in samewerking met WOES twee veilings te hou – een in die Kaap en een in Gauteng.

“Ons wil graag vroeg vanjaar twee veilings hou. Dit gaan terselfdertyd ook aanlyn gestroom word om ’n groter gehoor te verseker en ’n uitstekende reklame-platform aan adverteerders te bied,” verduidelik Valiant.

Buiten vir optredes deur bekende kunstenaars, gaan waardevolle Valiant Swart-memorabilia opgeveil word, waaronder Jinx (sy karakter in Song vir Katryn) se kitare (gemonteer in hout- en glas-uitstalkaste); ’n beperkte aantal nuwe elektriese kitare; handgeskrewe en geraamde lirieke van treffers soos “Sonvanger”, “Die Mystic Boer”, “Eyeshadow”en “Duisend Myl Blues”; die laaste oorblywende bottels Mystic Boer-brandewyn, getekende geraamde foto’s, kunswerke, ensovoorts.

Jaco van Dyk, een van die stigterslede van WOES, sê toe Kobie van Vonk Musiek hulle skakel om te hoor of hulle Lanelle sal help geld insamel, was hulle dadelik aan boord. “Ons sal graag so veel as moontlik wil insamel, aangesien die pad wat vir hulle voorlê finansieel nog baie onseker is.”

GELD sal verder ook op drie ander maniere ingesamel word:

1) Die verkoop van advertensieruimte op WOES se aanlyn veilingsblad;2) Skenkings deur individue en instansies; en3) Lootjieverkope vir pryse soos ’n vakansie, jagnaweek, gholfpakket, spa-wegbreek, visvanguitstappie, wyn, vleis, skoonheidsbehandelings en meer.

“WOES is oorspronklik aan die begin van die Covid-19-pandemie gestig om kunstenaars te help, maar het vinnig uitgebrei na skole en ander instansies,” verduidelik Jaco. “Ons het reeds negentig programme agter die blad, waaronder twee Ons Sal Self-konserte (in samewerking met Coleske Artists en Vocal Events) en twee Red Die Boer-restaurant-konserte, wat nie net groot hoogtepunte was nie, maar ook ’n broodnodige verskil gemaak het. Kykers geniet die program omdat hulle so ook die geleentheid kry om ’n verskil te maak. Ons doen waarvoor ons lief is en is dankbaar dat ons soveel mense as moontlik in die proses kan help.”

Die Gautengse konsert en veiling word Donderdag 27 Januarie by The Blue Crane-restaurant in Pretoria gehou.

Sakeondernemings en individue wat graag skenkings wil doen, pryse wil borg, advertensieruimte wil koop of andersins betrokke wil raak, kan e-pos stuur na valiant@valiant.co.za.

“Ek doen reeds alles in my vermoë om die toestand deur leefstylveranderinge te beheer, maar dit is ongelukkig nie altyd genoeg nie en ek leef met die konstante vrees dat my ander been ook aangetas kan word. Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die operasie ’n sukses sal wees nie, maar dit is my enigste hoop en ons is dankbaar vir almal wat reeds uit hul pad gegaan het om ons met die geldinsameling te ondersteun,” sluit Lanelle af. . Kaartjies vir die veiling, lootjies en konsert sal aanlyn beskikbaar wees by Tixsa by https://tickets.tixsa.co.za/event/woes-93-lanelle

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article