Patches die pitbull word in sy buurt geken as ’n vriendelike en opgeruimde hond, maar moet ná ’n skietvoorval met net drie bene oor die weg kom.


Talle vrae bly onbeantwoord nadat ’n skietvoorval in Langstraat, Paarl, verlede Donderdag (13 Januarie) daartoe gelei het dat ’n hond sy been verloor.

Patches, ’n pitbull wat ’n jaar en twee maande oud is, moet nou hinkepink met drie bene leer loop nadat hy en sy baas, Brasley Martin (35), omstreeks 19:30 op hul daaglikse staproete deur ’n veiligheidswag voorgekeer is.

“Ek en Patches stap al die afgelope jaar byna daagliks dieselfde roete om die veld in Langstraat. Ek laat hom los sodra ons in die bosse by die veld aangrensend die waterbrug is, sodat hy kan baljaar en tarentale kan jaag. Ons het daarna in die veld gesit en ontspan toe rook tussen die grasse begin trek. Daar waai toe ’n windjie wat vonke na ons toe laat spat, en dit is toe ons besluit om uit die bosse te beweeg.”

Hy verduidelik dat Patches ’n wurgband om sy nek gehad het. Die volgende oomblik is Patches se aandag afgelei deur ’n veiligheidswag wat met ’n 9 mm-pistool in die hand in hul rigting hardloop.

“Toe sien ek die wag wat op my skree dat ek moet plat lê en stilbly, waarna ek hom gevra het: ‘Hoekom? Ek het niks verkeerds gedoen nie.’

“Die wag het twee skote afgevuur en gedreig dat hy my hond sal vrek skiet. Ek pleit toe met my hande in ’n bidposisie om asseblief nie my hond seer te maak nie. Wraggies; daar skiet hy my hond!”

Brasley verduidelik ’n inwoner wat oorkant die veld woon en hulle gereeld in die gebied sien stap, het uit haar huis gestorm om die wag aan te spreek.

“Sy skree toe vir die wag dat my hond vriendelik is en niks aan hom sal doen nie. Die vrou het haar seun laat uitkom om my by die erf in te laat.

Terselfdertyd het ’n ander man ’n haelgeweer afgevuur, en dit is toe Patches sy kop uit die wurgband wikkel en weghardloop.”

Brasley sê Patches het reguit na ’n kolletjie op die Langstraat-brug gehardloop, waar hy hom geleer het om te sit en wag voordat hulle die pad oorsteek.

“My vrou, Melanie, het my kom haal en huis toe geneem, want my humeur was teen daai tyd buite beheer. Ek het haar gevra om na die toneel terug te keer om na Patches te gaan soek. Toe sy terug by die toneel kom, het sy gebel en laat weet die vrou wat my gehelp het, het Patches met ’n kar gaan haal. Die vrou het hom per motor na die Paarl-dierehospitaal geneem. Ek en Melanie is daarna reguit soontoe.”

Die veearts het verduidelik dat die koeël regdeur die been gesplinter en die been vergruis het en dat die been afgesit sou moes word. Sover beloop hul rekening by die veearts byna R7 000.

’n Klag van opsetlike saakbeskadiging (beskadiging van eiendom) is by die Paarl-polisie aangemeld. Die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis het die volgende bevestig:

“’n Veiligheidswag het Donderdag (13 Januarie) oor ’n plaas in Paarl-Noord gewaak. Vuurwapenskote is in die omgewing afgevuur nadat ’n hond vermoedelik op die wag losgelaat is terwyl die wag gepoog het om ’n verdagte vas te trek.

“Dit het daartoe gelei dat die hond raakgeskiet is terwyl gemeenskapslede die verdagte gehelp het om van die toneel af te vlug. Die verdagte het na bewering ’n heining op die plaas van die veiligheidsmaatskappy se kliënt geknip.”

Die voorval is tans deel van die polisie se ondersoek. Melanie het bevestig dat hulle ook ’n klagte by die polisie aangemeld het.

Koenie Beukes van AM Security het die volgende verklaring uitgereik: “Ná verskeie inbrake en opsetlike beskadiging van eiendomme op ’n perseel van ’n kliënt van AM Sekuriteit het die kliënt dit goedgedink om gewapende wagte te ontplooi.

“Omstreeks 19:30 het beamptes van AM Sekuriteit ’n verdagte met ’n hond aan die buitekant van ons kliënt se perseel opgemerk. Die beamptes het die verdagte dopgehou.”

Beukes het bygevoeg dat slegs een van die mans ’n wag onder sy bestuur was, en die ander man bloot ’n lid van die gemeenskap was.

“Die verdagte het na die perseel van AM Sekuriteit se kliënt beweeg, waar hy die elektriese heining geknip het. Die twee beamptes het die verdagte genader om hom in hegtenis te neem,” verduidelik Beukes.

“Die verdagte het ’n wit pitbull op die beamptes losgelaat. Die beamptes het die nodige stappe gedoen om hulself teen die aanval te verdedig. AM Sekuriteit ondersoek tans die aangeleentheid.”

Beukes sê die ondersoek sal ’n poligraaftoets van die wag behels en het volgehou dat die maatskappy se wagte deeglike opleiding ontvang.

“Ek was nie self op die toneel nie. Ek kan geen verdere kommentaar lewer totdat die ondersoek afgehandel is nie,” het Beukes afgesluit.

  • A pitbull faces rehabilitation after losing its front leg in a shooting incident on Thursday (13 January). A police investigation was launched to determine the circumstances that led to the shooting by a security guard in Paarl-North.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article