Die hele debakel oor of die matriekuitslae in die media gepubliseer gaan word of nie, het my laat dink aan ’n gesprek met iemand hieroor ’n paar jaar gelede.

Die persoon was van mening, en ek stem met haar saam, dat alhoewel die opwinding om jou naam in die koerant te soek groot is vir leerders, is die vrees en angstigheid daaroor dalk nog groter, want wat as die leerder nie slaag nie?

Buiten die teleurstelling wat die leerder oor sy uitslae ervaar, moet hy nog wonder hoe hy sy familielede daarvan gaan vertel, dat al sy maats by die skool gaan weet, en gaan die tannie verder af in die straat nou ook sien sy naam is nie in die koerant nie?

En nee, ’n mens wil ook nie die ervaring heeltemal van leerders wegvat wat wel slaag nie en hul naam in die koerant sien nie, maar is om hul naam in die media te sien regtig so belangrik dat indien dit nie daar sou verskyn nie hulle ’n groot emosionele knou kan kry?

Dit is algemene kennis dat ons leerders in die senior fases van hoërskool geweldige druk ervaar. Druk om goed te presteer, om te slaag en dan is daar nog groepsdruk ook.

Kinders meet hulself dikwels aan hul maats en die standaarde van die wêreld op sosiale media, wat dikwels net die blink kant bo wys.

Hoekom nog die moontlikheid skep waar ’n kind hom of haar gaan meet aan die feit dat hul naam in die media verskyn of nie?

Dit is glo nou so ’n groot onreg wat aan die matrieks gedoen word, bog man, daar is kinders wat deur veel moeiliker omstandighede, omstandighede wat hulle nie gekies het nie, moet oorleef – dit noem ek ’n onreg!

Ons prioriteite moet dalk na gekyk word.


Gayle,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article